Preekopnames: https://tinyurl.com/55duxwvp
Die hoofsaak van gemeentewees mag die Filippense nooit vergeet nie. Wat is dit?
Hulle moet in hierdie wêreld onder alle omstandighede as burgers van die hemelse koninkryk leef! Hoe doen mens dit? Hulle lewens moet in ooreenstemming met die evangelie van Christus wees – dit moet dieselfde gewig hê as die onberekenbaar waardevolle evangelie (27).
As dit gebeur, sal hulle lewens gekenmerk word deur iets waarvan 'n onbestendige wêreld nie anders kan as om kennis te neem nie: Standvastigheid!
Uitleg
# "Dit": Waarna verwys dit? Dit wys op 'n gemeente se lewenswyse as burgers van die koninkryk, en 'n standvastige ingesteldheid op die "hoofsaak" (NAV).
Standvastigheid kom tipies op twee maniere tot uitdrukking. Dit het praktiese effekte.
+ Een, so 'n gemeente sal in hartseenheid saamstry vir die geloof van die evangelie (27b).
Dit beteken enersyds dat lidmate 'n hartstog sal hê vir die bewaring van die waarheidsinhoud van die evangelie.
En andersyds beteken dit dat hulle alles tot hulle beskikking sal inspan sodat die mense óm hulle tot geloof in die waarheidsevangelie sal kom.
+ Twee, hulle sal hulle deur niks of niemand laat stuit in die uitlewing van hierdie roeping nie (28a).
# "Teken" is 'n regsterm wat op 'n onweerlegbare bewysstuk dui. Wanneer die aanklaer hierdie troefkaart speel, is die saak so goed soos afgehandel. En die aangeklaagde wéét sy turf sit.
Wat die apostel dus met hierdie woordkeuse wil tuisbring, is dat 'n gemeente se standvastigheid met alles wat dit meebring – 'n onontkombare boodskap aan die ongelowiges om hulle stuur.
# Wat word bewys?
Enersyds die ongelowige teenstanders se komende ondergang.
Andersyds die feit van die Christene se redding.
+ "Ondergang" word in die OAV met "verderf" vertaal. Dis een van die verskriklikste woorde in die Bybel. Dit word gebruik om die lot te beskryf van diegene wat sonder Christus sterf. Dit dui op vernietiging – nie van syn nie, maar van welsyn; nie van bestaan nie, maar van alles wat bestaan die moeite werd maak. Dit dui op ewige verdoemenis.
"Redding" is die teenpool van ondergang. Dit dui in die finale analise op die volle, uiteindelike, en onherroeplike heerlikheid en welgeluksaligheid wat op begenadigdes wag.
# Wie word oortuig?
'n Versigtige lees van die teks laat blyk 'n verskil tussen die OAV en die NAV. Dit het te doen met die Griekse grondtekste wat gebruik is. Sonder om aandag aan tegniese besonderhede te gee, kan ons aanvaar dat die NAV se weergawe waarskynlik beter is.
Dus: Nie die teenstanders, enersyds, wat oortuig word van hulle ondergang, en die Christene, andersyds, wat self oortuig word van hul redding nie (OAV), maar wel die teenstanders wat oortuig raak van sowél hulle eie ondergang, as die gemeente se redding.
# "Dit kom van God".
Waarna verwys "dit"? Dat ál die voorafgaande dinge van God kom. Dis Hý wat bepaal het dat die gemeente se heilige lewenswyse, asook hulle eendragtige en onstuitbare ywer vir die geloof van die evangelie, 'n onweerlegbare bewys vir die ongelowiges moet, en sal wees. Só het Hy verordineer moet dit werk.
Laat ons dit nie miskyk nie:
Dit is God se plan dat die karakter en gedrag van elke ware gemeente
'n groot rol moet speel
in die oorreding en bekering van 'n ongelowige wêreld!
Wat sê dit vir ons?
# Ons kyk na 'n fundamentele Skrifoproep!
God plaas in Sy soewereine wysheid 'n grootste en onontkombare roeping op die kerk, spesifiek op elke plaaslike kerk, om deur wat die gemeente is en doen, 'n kragtige en onmiskenbare sein oor ewigheidsrealiteite aan die omringende wêreld te stuur.
Let spesifiek op 4 belangrike aspekte daarvan:
1. 'n Gemeente wat is, en doen wat hy moet, kan nie deur 'n gevalle wêreld geïgnoreer word nie. Dit sal altyd 'n kragtige appél op ongelowiges maak
Dit het 'n belangrike implikasie: As onbekeerde mense in staat is om van dag tot dag onaangeraak met ons skouer te skuur, het ons rede tot selfondersoek. Nog meer, indien ongelowiges in staat is om ons dienste by te woon sonder om 'n appèl te beleef, is daar fout. Dis Bybels. Dink maar aan Hand 4:13; 5:11-14 en 1Kor 14:23-25. Natuurlik het die teenwoordigheid van die apostels, en die besondere werkinge van die Heilige Gees destyds meermale unieke en baie dramatiese dimensies aan hierdie Skrifuitspraak verleen, maar dit hef nie die beginsel op nie.
2. As ons as gemeente ís, en dóén wat ons moet, sal die gevalle wêreld óm ons weet dat daar 'n diepliggende verskil is tussen Christus se ware gemeente, en ongelowiges
Dis kardinaal belangrik dat die kerk radikaal anders as die wêreld sal wees. Is ons nie God se nuwe skepping in Christus nie? Het ou dinge nie verby gegaan nie? Het alles nie nuut geword nie? (2Kor 5:17).
Ons moet soos 'n stad op 'n berg wees; ons moet skyn soos 'n lig in die duisternis.
Die kerk se oortuigingskrag is die grootste wanneer dit die meeste van die wêreld verskil. Tot die mate wat ons ís wat die saligsprekinge beskryf, tot daardie mate – en slegs tot daardie mate – sal ons die sout van die aarde wees (Matt 5:3-16).
Hoe skokkend laks het ons nie geword oor die sonde van wêreldgelykvormigheid nie! (Jak 4:4; 1Joh 2:15-17). Trouens, mens het die indruk dat groot dele van die kerk alles inspan om soveel as moontlik net soos die wêreld te wees.
3. Ons andersheid moenie in selfgemaakte eksentrisiteite en eksklusiwiteite lê nie, maar in dit wat die voorafgaande verse ons beveel
As die waardes van die andersom koninkryk ons lewenswyses beheers, sal ons in hierdie wêreld uitstaan asof ons met neon geverf is. As elke dag se prioriteite uitgeplet word op die aambeeld van die evangelie wat ons verkondig, sal ons integriteit die mense om ons laat regop sit. As ons in verantwoordelike waardigheid jaar in en jaar uit standvastig lewe, sal mense na ons gryp soos na drywende boomstompe in 'n siedende rivier. As ons kompromieloos op die absolutes van ons geloof staan, sal die massas wat óm ons soos skuimbolle op 'n see van relativisme ronddryf, weet hier is iets wesentlik anders. As ons die evangelie van God se reddende genade vir sondaars oraloor uitdra, sal diegene wat ons dophou presies verstaan wat die hoop is wat in ons lewe (1Pet 3:15). As ons weier om deur hierdie wêreld se fronse en dreigemente geïntimideer te word, sal ons teenstanders weet hier is mense wat deur iets gedring word wat veel groter as eiebelang is.
4. Ongelowiges sal tot die besef kom dat hulle te doen het met ewige realiteite
Ons wil en moet dus nie net anders wees om ánders te wees nie – ons moet deur dit wat ons ís, en doen die boodskap uit trompetter dat daar 'n hemel en 'n hel is. En dit sal slegs gebeur as ons self in die lig van die ewigheid leef. Dan sal mense aan ons baadjiepante begin vasgryp, en soebat om saam met óns die pad na die ewigheid te stap.
Besef ons regtig hóé siek sóveel uitdrukkings van die "kerk" is?
Is dit nie onuitspreeklik tragies nie dat die kerk in ons land tot 'n groot mate oor die afgelope dekades misluk het om die "hoofsaak" uit te leef!
Wie kan ontken dat ons in 'n tyd van geloofsafval en -verwarring leef? Hoeveel kerkmense is nie ontnugter nie! Hoeveel raak nie kerklos en kerkloos nie! Hoeveel gooi nie die geloof eens en vir altyd oorboord nie!
Waarlik, ons leef in dramatiese tye! In hierdie dae word die ewige lot van ontelbaar baie bepaal! Ons leef in die dal van beslissing!
Die gewigtigheid van hierdie saak word verder onderstreep as mens onthou dat die kerk wat ons kinders en kleinkinders eendag op ewigheidspaaie moet lei, vandag gevorm word.
Wat is die oorsaak van ons swakheid?
# Wat het hierdie tragiese afval van, en reaksie teen die kerk in die westerse wêreld en spesifiek in ons land veroorsaak? Hier by ons meen ek dat daar ten minste 5 faktore is:
+ Een, dooie ortodoksie en vormgodsdiens gil al vir dekades in ons land dat die evangelie alles behalwe reddend en lewensveranderend is.
+ Twee, ongeloofsteologie, wat toenemend in ons akademiese inrigtings hoogty vier, is besig om hartsgeloof en -ywer in 'n menigte kerke en predikers te versmoor.
+ Drie, in ander kringe weer, maak mensgesentreerde belewingsbeheptheid, met sy sensasionele en naïewe aansprake, 'n klug van die Bybelse oproep om in waarheid, heiligheid, selfverloëning, en Godsvrees te leef.
+ Vier, afgewaterde, moralistiese en sentimentele melkkos-prediking het 'n geslag "Christene" geskep sonder insig in, of honger na die diep waarhede van die Nuwe Verbond. Onderskeidingsvermoë is gevolglik 'n rariteit, en alles word vir soetkoek opgeëet. Onthou, staan jy vir niks nie, val jy vir alles!
+ Vyf, die Afrikaners se onbybelse volkskerk-geskiedenis, en al die skeeftrekkings wat daarmee saamhang, is besig om vernietigend te boemerang.
# Maar laat ons nie wanhoop nie. Die woorde van Ester 4:14 geld steeds: Ons is met die oog op 'n tyd soos hierdie in die wêreld en spesifiek in ons land geplaas.
Nóú, meer as ooit, moet ons wat die herskeppende krag van die Gees proefondervindelik ken, met onverdeelde harte in die voetspore van die Here Jesus volg. En vergeet dan nooit nie: Hy het só met sondaars geïdentifiseer dat mense Hom 'n vraat en wynsuiper genoem het – maar tóg was Hy altyd so radikaal anders as sulke sondaars. Hy het só geleef dat jy nie vyf minute met Hom te doen gehad het voordat jy van ewigheidsrealiteite bewus geraak het nie.
Waarlik, in sy lewe was die "Teken" deurgaans onmiskenbaar duidelik!
Mag die Here ook van óns 'n "teken" maak!
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev