Klankopname: 'n Neutedoppreek: https://tinyurl.com/r3vf7838
DIE AANLOOP
Die Middelaar
Niemand kan die Bybelse leer van versoening en God se verlossingsplan verstaan, as hy nie 'n behoorlike greep op die waarheid van Jesus Christus se middelaarskap het nie. Hierdie enkele konsep lê aan die hart van die Godsopenbaring en is dus een van die sleutels wat die evangelie oopsluit, trouens, die ganse Woord van God.
Die Bybel getuig van Christus. Dis 'n afwagtende profetiese getuienis in die Ou Testament; dis 'n terugkykende apostoliese getuienis in die Nuwe. En sentraal is die feit van Sy middelaarskap. 'n Middelaar is iemand in die middel. Hy is 'n tussenganger, 'n brug tussen twee (gewoonlik vyandige) partye. Hy het kontak met beide, simpatiseer met beide, en word deur beide vertrou. Sy taak is om elke party by die ander te verteenwoordig – en om sodoende versoening tussen hulle te bewerkstellig.
Tussen God en mens is so 'n Middelaar noodsaaklik, omdat die sondeval vyandskap – in die sin van totale verwydering – tussen hulle gebring het (Rom 5:10a).
Enersyds is die mens vyandiggesind teenoor God (Rom 8:7) en geslote vir Sy spreke (1Kor 2:6–16; 2Kor 4:4).
Andersyds is God met toorn vervul oor die mens se sonde en eis Sy geregtigheid volle straf vir die skepsel se rebellie (Rom 1:18; 3:19; Ef 2:3b).
Hierdie gebroke verhouding met sy Skepper is die mens se heel grootste probleem. Presies dit is Paulus se vertrekpunt as hy die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof in Romeine begin uiteensit (Rom 1:18).
In die Ou Testament funksioneer God se verhouding met die verbondsvolk grootliks deur 3 soorte middelaars. Profete het namens Hom met die volk gepraat. Priesters het namens die volk voor Hom versoening gedoen. Konings moes die volk in gehoorsaamheid aan Hom lei – en sodoende Sy regering bemiddel.
Hierdie 3 ampte het wonderlik saamgeknoop in Christus.
Ou Testamentiese wortels van Christus se Hoëpriesterskap
Die oorspronge van alle groot Nuwe Testamentiese waarhede lê in die Ou Testament.
Gesien in die lig van die progressiewe en geïntegreerde ontwikkeling van die Godsopenbaring is dit eintlik voor die hand liggend. Wie daarom Jesus Christus se middelaarskap, in die besonder dan nou Sy hoëpriesterskap, behoorlik wil verstaan, moet allereers die Ou Testamentiese wortels daarvan oopgrawe.
Die verbondsvolk was meestal ongeletterde slawe toe hulle uit Egipte getrek het. God praat dus met hulle op 'n wyse wat hulle kan verstaan – met simbole en seremonies.
Sentraal in die seremonies was die offerstelsel, met die Groot Versoendag as hoogtepunt. Die basiese boodskap hiervan was: Redding kom deur plaasvervanging!
Wanneer die gelowige Israeliet geoffer het, het hy daarmee bely: "Ek is 'n sondaar en verdien die dood. Maar ek glo daar is vergiffenis by U, my God. Ek pleit daarom: Aanvaar hierdie offerdier as plaasvervanger. Wat daarmee gebeur, moet eintlik met my gebeur. Ek weet 'n diereoffer kan U nooit tevrede stel nie, maar hierdie handeling is 'n uitdrukking van my geloof dat U self (soos vir Isak) die finale en hoogste plaasvervanger sal voorsien, die Lam van God!"
God se gunsgenote in die Ou bedeling het dus wel die vreugde van vergiffenis en versoening met Hom gesmaak. Waar kom dit duideliker na vore as in die Psalmboek?
Hulle het weliswaar min verstaan. Nog net die eerste druppels van die Godsopenbaring het immers geval. Maar wie dít geglo het, só geglo het dat hy sy lewe daarvolgens ingerig het, is gered.
Soos vandag, het regverdiging toe ook deur geloof alleen geskied (Gal 3:6, OAV). Paulus werk sterk hiermee as hy in Rom 4 beklemtoon dat hy nie 'n nuwe boodskap verkondig nie, maar die ou-ou verlossingsboodskap. "Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken" (Rom 4:3, OAV). Hierdie geregtigheid het hy nie deur werke verkry nie (v.6), ook nie deur die besnydenis nie (v.10), en ook nie deur wetsonderhouding nie (v.13).
Ook in die Ou Testament was daar geen verlossingsheil buite Christus om nie. Voor Sy koms is die uitverkorenes se sondeskuld as 't ware teen Sy rekening afgeskryf. Mettertyd sou Hy dit wel kom vereffen.[1]
# Uit wat hierbo gesê is, is dit duidelik dat die Ou Testamentiese offerdiens voorlopig was. En as sodanig was dit ook onvolmaak.
Die wortelbetekenis van die Hebreeuse woord, versoening, is om te bedek. Die offers het dus die volk se sondes voor God bedek. Dit het egter nie die saak afgehandel nie; allermins! Die offerdiens was bloot 'n interim-maatreël.
Hóé voorlopig en onvolmaak die Ou Testamentiese godsdiens werklik was, sou eers ná die koms van Christus eksplisiet duidelik word.
Die Hebreërskrywer druk sterk daarop: Dit het bloedweinig bereik (7:18). Die priesters se werk was onvoldoende, omdat hulle sterflike mense was (7:23–24). Hulle moes immers ook vir hulle eie sonde offer (5:3; 7:27). Verder moes hulle offers oor en oor gebring word (10:1). En hierdie offers het niemand se gewete gereinig nie (9:9). Dit het allermins die ware probleem van sonde aangespreek (10:4, 11). En die onvoldoende aard daarvan het die heel duidelikste geblyk uit die feit dat dit nie toegang tot die allerheiligste verleen het nie (9:8). Niemand is dus finaal herstel in sy verhouding met God nie.
Al het hy min verstaan, het die gelowige Israeliet wel geweet sy offers was bloot voorlopig (net 'n bedekking van sonde voor God se aangesig). Hy het begryp dat elke offer profeties 'n Godsbelofte gedra het, en dat dit daarom 'n geloofshandeling was. Hy het daaraan vasgehou dat God wel mettertyd werk sou maak met sy sonde en die straf daarvoor – dat Hy self die volmaakte priesterskap sou instel en die volmaakte plaasvervanger sou gee.
Die groot vervulling
Soos die jare en geslagte voortgebeur het, het hoëpriester ná hoëpriester gekom en gegaan (Heb 7:23). Die volk het gekreun onder hulle seremoniële pligte. Maar niks is ooit afgehandel nie; alles was voorlopig.
Eendag het 'n triomfantelike kreet egter 'n einde gebring aan die lang wag: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Joh 1:29,36). Die Groot Plaasvervanger het opgedaag! Die "volheid van die tyd" het uiteindelik aangebreek (Gal 4:4).
In die Evangelies is dit duidelik hoe Jesus se dissipels geworstel het om te verstaan hoe die Ou Testamentiese beloftes van 'n Messias in só 'n nederige man vervul is. Hulle het immers 'n glansryke Koning verwag.
En vir die oorgrote meerderheid Jode, in hulle geestelike blindheid, was die gedagte nóg minder aanvaarbaar; trouens hulle het Hom spoedig met minagting verwerp.
Eers moes die Heilige Gees in Sy Pinkstervolheid kom om die Apostels "in die hele waarheid" te lei (Joh 16:12–14). Soos die geheimenisse van die Nuwe Verbond vir hulle oopgebreek is, het alles wonderlik in plek geval.
# Nêrens is méér volledig en in diepte oor die vervulling van die Ou Testamentiese offerstelsel geskryf, as in die Hebreërboek nie.
Hebreërs word geskryf aan Joodse gelowiges vir wie die Christelike wedloop te moeilik begin word. Hulle oorweeg gevolglik om terug te keer na die Joodse godsdiens en seremonies. Dit vervul die skrywer met weersin en heilige verontwaardiging. Hierdie dwase mense wil terugdraai na iets wat nie meer bestaan nie. Alles is immers eens en vir altyd in Christus vervul! Wil hulle werklik nou God se groot Genadegawe vertrap (Heb 6:6; 10:29)?
# Dis betekenisvol hoe die boek begin (1:1v). Die Godsopenbaring is progressief. In Ou Testamentiese tye was God se spreke fragmentaries – veelmalig en veelsoortig (Heb 1:1). Maar uiteindelik het Sy openbaring tot finale afronding gekom in Sy Seun se menswording en werk. Dit wat in die Ou Testament nog onvoltooid was, was nou afgehandel. Dit wat voorlopig was, was nou finaal.
# In die res van die boek word hierdie uiters belangrike waarheid dan sistematies en met onontkombare logika uitgewerk. Die skrywer se tipiese werkswyse is om die mees verhewe dinge in die Joodse gemoed teenoor Christus te stel. In Sý lig vervaag een na die ander Ou Testamentiese ster dan tot 'n dowwe skaduwee.
# Maar die skrywer wil ook seker maak sy lesers verstaan hom nie verkeerd nie. Die kontras tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, waarmee hy so sterk werk, is nie die van valsheid en waarheid nie. Dis die kontras tussen beloftes en hulle vervulling; tussen skaduwees en hulle substansie; tussen dit wat onvoltooid en dit wat volmaak is. Daarom is die woord "beter" kenmerkend van die boek. Die Nuwe Testamentiese gelowige het in Christus 'n beter hoop (7:19); 'n beter verbond (7:22; 8:6), beter beloftes (8:6), en 'n beter Offer (9:23).[2]
# Die fundamentele argument van die Hebreërskrywer is dat God nou met Sy volk op 'n nuwe manier werk – in terme van 'n nuwe verbond (Heb 8:6–13). En die eintlike verskil tussen die Oue en die Nuwe is dat daar nou 'n nuwe en volmaakte Middelaar is – Profeet, Priester en Koning tegelyk!
Sekerlik gee Hebreërs aandag aan Christus as God se Groot Profeet en Koning, maar die hoofklem is op Sy uitnemende en volmaakte priesterskap. Jesus Christus, Hoëpriester van die Nuwe Verbond, troon ver uit bokant Aäron, hoëpriester van die Ou Verbond. Hieraan word amper die helfte van die boek gewy (4:14–10:18).
# In 'n neutedop kan die Hebreërskrywer se dringende pastorale oproep só opgesom word: Kyk hoe bevoorreg is ons! Jesus Christus is die vervulling van 1500 Groot Versoendae. Miljoene diere is geslag. Eeu na eeu het die volk op God se Lam gewag. En nou het Hy uiteindelik gekom! Trouens, talle van ons het Hom self gesien!
Kom tot stilstand, dink tog – en begryp! Christus is sóveel groter as die Levitiese priesterskap, sóveel heerliker as Aäron. Hy is vervulling van die Seremoniële Wet.
En julle wil omdraai – met só 'n Hoëpriester!
Die grondliggende amp
Inderdaad is die Here Jesus Christus tegelyk Profeet, Hoëpriester en Koning van die Nuwe Verbond. En tussen hierdie drie verlossingsampte bestaan 'n onlosmaaklike en intieme verband. Tog is Sy Hoëpriesterskap die mees grondliggende van die drie – in elk geval in die Hebreërboek.
# Die messiaanse Ps 110:4 maak 'n merkwaardige stelling. Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: "Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek." En ses maal brei die skrywer hierop uit.[3]
Let op hoe sterk dit beklemtoon word dat God hierdie hoëpriesterskap met 'n eed bevestig het.
Sekerlik kan ons die gevolgtrekking maak dat die Hoëpriesterskap van ons Here Jesus van die allergrootste belang is. En inderdaad is dit die diepste ankerpunt, die hart van ons redding. Waarlik, die oorspronge van die evangelie lê in God se ewige raad.
Die bekendmaking, en die uitwerk van die evangelie, geskied deur Christus se profetiese en koninklike ampte. Maar Sy Hoëpriesterskap het die evangelie daargestel.
# Niks laat Christus se amp as Profeet so oopblom as juis Sy Priesterskap nie.
Daar is bykans niks wat Hy as Profeet aan ons openbaar, wat nie wonderlik in Sy Hoëpriesterskap gedemonstreer en onderstreep word nie. Die Lam van God se hoëpriesterlike werk vorm tot 'n groot mate die inhoud van Sy profetiese verkondiging, asook die apostoliese prediking (vgl. 1Kor 1:23-24, 30-31).
Hoeveel word nie daarin van God en Sy karakter geopenbaar nie! Sy soewereiniteit, Sy heiligheid, Sy geregtigheid, Sy Wet en volmaakte standaarde! Sy grootse raadsplan om Homself te verheerlik, Sy wysheid en almag! Sy liefdesgenade, Sy geduld, Sy versoenbaarheid!
Hoeveel skokkende onthullings oor die mens lê nie implisiet daarin nie! Sy sonde en skuld, sy doemwaardigheid, sy volslae onvermoë om sy eie lot te verander!
Hoeveel helder lig word nie gewerp op die rykdomme van ons redding nie! Die objektiewe regsgeldigheid en onomkeerbare afgehandeldheid daarvan! Die toeganklikheid van God se genadetroon, die sekerheid van ons volharding, die onvervreembare sekuriteit van ons ewige erfenis!
# Sonder Christus se priesterskap sou Sy Koningskap ondenkbaar wees.
Sy regeringsepter het Hy immers as priester verdien. Diegene wat Hy koninklik oorrompel en in Sy triomftog meevoer, is presies dieselfde mense wat Hy eers as priester moes loskoop. Die vyand wat Hy nou onder Sy voet verbrysel, se rug is oor die kruis geknak. Waarlik, die Here se priesterskap is grondliggend en sentraal.
Golgota is die middelpunt van alles. Dis waarom Paulus oor niks anders wou praat as oor Jesus Christus nie – en spesifiek oor Hom as die gekruisigde (1Kor 2:2).
Enkele implikasies
1. Daar is geen wesensverskil tussen Ou en Nuwe Testamentiese redding nie.
Die reddingsbeginsel bly steeds regverdiging deur geloof alleen. Gelowiges in die ou bedeling het vorentoe gekyk – deur die bril van die Seremoniële Wet. Wat het hulle gesien? Die Lam van God! Al het hulle dof gesien, is dit hulle tot geregtigheid gereken as hulle God se beloftes waarlik geglo het.
Sedert die koms van Christus kyk gelowiges terug – deur die bril van die Nuwe Testamentiese openbaring. Wat sien hulle? Die Lam van God! Al sien hulle baie duideliker, geld dit steeds: As hulle God Glo, word dit hulle tot geregtigheid gereken.
2. Die Godsopenbaring in Ou en Nuwe Testament is wonderlik geïntegreerd.
Natuurlik is daar 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond. Hoe duidelik maak die Hebreërskrywer dit nie! Maar, ewe belangrik, daar is ook 'n onverbreekbare kontinuïteit.
Dit het geweldige teologiese implikasies, wat ons nie nou kan uitwerk nie. Maar deur die eeue is dwalinge sonder tal te wyte aan wanbegrip van die verhouding tussen die twee Testamente.
3. Vergiffenis deur die offer van 'n strafdraende plaasvervanger lê aan die hart van God se verlossingsplan.
Die bloedspoor van 'n miljoen offers loop van die paradyshek af tot op Golgota. Maar daar stop dit. Hoe bevoorreg is ons nie! Ons is vry van die swaar juk van die offerdiens. Die finale Offer is eens en vir altyd geoffer. Dag na dag kan ons vrylik drink uit die fontein van Christus se volmaakte en afgehandelde werk as Hoëpriester.
Presies hier lê die verskil tussen die Christelike geloof en alle godsdienste – ook die "churchianity" van 'n formalistiese, dooie kerk.
Alle godsdienste, kultusse en ketterye preek: "Doen! Doen! Doen!".
Die Evangelie jubel dit uit: "Gedoen! Gedoen! Gedoen!"
4. Hierdie plaasvervanging realiseer egter nie outomaties nie.
Weer en weer roep die Ou Testamentiese profete Israel op tot verootmoediging, hartsgebrokenheid en bekering. En tot vandag toe is dit nie anders nie. Dis die "armes van gees" (Matt 5:3, OAV), die geestelike bedelaars, wat die Koninkryk ingaan. Dis diegene wat Christus vanuit hulle geestelike bankrotskap omhels, en vir lewe en dood vashou, en enduit bly vashou – wat vrygespreek en met Sy geregtigheid beklee word.
Slot
So wesentlik belangrik is die tema van hierdie studiestuk (en die volgende twee), dat 'n evangelie wat iets anders as sentrale fokuspunt het, nie die ware evangelie is nie, maar 'n "ander evangelie" (2Kor 11:2–4; Gal 1:6–10). Prediking wat nie weer en weer jubelend in die eens en vir altyd afgehandelde werk van Christus roem nie, red nie – dit verdoem (Rom 1:16–17; 1Kor 1:17–2:5). Hoe sterk beklemtoon die Hebreërskrywer dit nie in sy 5 pastorale waarskuwings nie! (Heb 2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:5-29).
Nóóit kan die leser hom oor 'n belangriker vraag verantwoord nie: Stel jy regtig al jou vertroue, vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid, in Jesus Christus en Sy eens en vir altyd afgehandelde werk – beide as Priester en as Offer – en daarin alleen?
DIE HART
Twee vrae
# As jy, as ware Christen, kon kies waar om te bly – in Adam se paradys vóór die sondeval, met sy sondelose bestaan in gemeenskap met God, of in ons húídige wêreld met sy sonde, geweld, ellende en hartseer – waar sou dit wees?
# As jy inderdaad 'n Christen is, wat is die diepste grond vir jou redding? Kies een van 3 opsies: Onderhouding van God se Wet; Geloof in Jesus Christus; Enigiets anders.
Die omvang van Christus se hoëpriesterlike werk
# Ongeag of ons dit verstaan, en ongeag of ons dit aanvaar – God se Woord leer weer en weer dat die Vader voor die grondlegging van die aarde 'n verordineerde aantal mense uitverkies het tot die ewige lewe (dit impliseer uiteraard ook 'n sondeval). Hulle sou dus nie die ewige dood kry, soos hulle verdien nie (Hand 13:48; 18:9-10; Rom 8:28-39; 9; Ef 1:3-14; 1Tess 5:9; 2Tess 2:13-15 (OAV); 2Tim 1:8-9; 1Pet 1:2; Op 13:8).
In die ewige raad van God is hierdie mense aan die Seun "gegee" (Joh 6:37, 39; 10:29; 17:6, 9, 24), met die oog daarop dat Hy alles moes doen wat vir hulle verlossing
nodig sou wees.
# Vanuit die Nuwe Testament is dit duidelik dat die Seun se taak twee groot komponente het – en steeds het.
+ Eerstens moes Hy die objektiewe regsbasis vir hierdie mense se verlossing kom daarstel. Dit het gebeur tydens Sy vernedering hier op aarde, en is gevolglik 'n afgehandelde saak. In die teologie word hierna as Sy genoegdoening verwys.
+ Tweedens moet Hy hierdie verlossing in hulle lewens verwerklik, of toepas. Dit gebeur in die lewe van elke betrokke individu. Dit is dus 'n proses wat deur die eeue tot en met die wederkoms strek. As dit oor Sy hoëpriesterskap gaan, word hierdie voortgaande werk van Christus Sy voorspraak genoem.
# Nou eers: Jesus Christus se afgehandelde genoegdoening.
Sy gehoorsaamheid
# Christus se genoegdoening is so geskakeerd dat die Bybel verskeie idees en uitdrukkings gebruik om dit te omskryf. So praat die Nuwe Testament van Sy offer, Sy verlossings-, Sy versoeningswerk en Sy middelaarswerk.
Die vraag ontstaan nou, is daar nie 'n allesinsluitende idee wat al hierdie fasette van Sy werk saambind nie? Inderdaad. Hierdie omvattende en onderliggende beginsel is: Jesus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader.
Jesus Christus het die regsbasis vir die redding van sondaars
daargestel en verseker
deur as Hoëpriester
Homself in totale gehoorsaamheid
aan Sy Vader te offer
as die ewige Lam van God.
Dit was dus die volmaakte gehoorsaamheidsoffer (niks minder nie) van Sy Seun wat die Vader in Sy heiligheid, geregtigheid en toorn bevredig, en met sondaars versoen het.
# Presies dit is die Hebreërskrywer se argument as hy Ps 40 in Heb 10:5-10 aanhaal:
"Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: 'Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie!
Toe het Ek gesê: 'Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.'
Eers sê Hy: 'Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,' hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: 'Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.'
Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel.
Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd." (my paragrafering)
# Dis verder betekenisvol dat die duidelikste Messiaanse gedeelte in die Ou Testament na die komende Een verwys as God se "Dienaar" (Jes 52:13-53:12). Vergelyk ook Joh 6:38; 10:17-18; Rom 5:19; Fil 2:7-8; Heb 5:8-9.
# Waarom was hierdie versoeningswerk van Christus noodsaaklik? Waarom moes die ewige tweede Persoon van die Goddelike drie-eenheid mens word (Joh 1:1,14)?
Die gevalle mens se probleem
# Voor die sondeval was die mens in 'n werkverbond met God. Adam het kennis, geregtigheid en vryheid gehad, maar hy moes self die ewige lewe verdien – deur persoonlike en volmaakte gehoorsaamheid (Gen 2:16-17). Oënskynlik sou daar 'n proeftydperk wees, en is die boom van die lewe – en waarvoor dit staan – vir hom as beloning voorgehou (Gen 2:9; 3:22).
Die prominente plek wat die boom van die lewe in Openbaring se beloftes aan oorwinnaars in Christus inneem (2:7; 22:2,14), bevestig so 'n vertolking.
In 'n neutedop het die werkverbond hierop neergekom: Wees gehoorsaam – en beërf die ewige lewe. Wees ongehoorsaam – en sterf vir ewig.
# Adam, verbondshoof van die mensheid, het misluk. Hy het gesterf (in die sin hierbo bedoel) – en saam met hom sy nageslag, die ganse mensheid wat uit sy lendene gebore is. As eerste mens ("stamvader") en verbondshoof het Adam immers ook sy hele nageslag verteenwoordig.
Die verskriklike gevolg is dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor sy heilige Skepper het – sy skuld én sy onvermoë.
+ Hy is in skuld by God oor sy mislukking en rebellie. En God se heilige geregtigheid vereis dat dit betaal moet word. Tydens die daarstelling van die verbond al, is die boete duidelik uitgespel: Die ewige dood!
+ Sou die skuld opgehef of vereffen word, sou dit nie die mens se dilemma volledig oplos nie. Dan was hy steeds in presies dieselfde posisie as waarin Adam vóór die sondeval was. Hy sou steeds die ewige lewe moes verdien – deur volgehoue gehoorsaamheid. Dit is en bly immers die absolute en ononderhandelbare voorwaarde vir die ewige lewe. En as Adam nie kon slaag nie, hoeveel te minder die gevalle mens!
Verlossing in Christus
# God kon die mensheid in sy gevalle staat en in die ewige dood gelos het. Dit sou Sy onbetwisbare reg gewees het. Hy het dit immers met die gevalle engele gedoen! Maar vir die gevalle mens – kroon van Sy skepping – het God 'n verlossingsplan in werking gestel.
+ Hy sou opnúút met 'n nuwe skepping en 'n nuwe Adam begin – Sy eie Seun, die Tweede Mens, die Laaste Adam (1Kor 15:45-47).
+ Die Laaste Adam was wéér in 'n werkverbond met God. Tot vandag toe het God nie Sy voorwaarde vir die ewige lewe verander nie!
+ Waar die eerste een misluk het, was die Laaste Adam volmaak getrou en gehoorsaam. En sodat niemand kan twyfel dat Hy die offer van Sy Seun se gehoorsaamheid aanvaar het nie, het die Vader dit onbetwisbaar geproklameer – deur Hom uit die dood op te wek.
# Die laaste Adam se getrouheid het duiselingwekkende implikasies. Hy het immers gekom met die oog op 'n nuwe skepping, in die besonder 'n nuwe mensheid. Hiervoor sou Sy verbondsgehoorsaamheid die regsbasis bied.
Die Laaste Adam het die gevalle mens se dubbele dilemma
– sy skuld en sy onvermoë –
volmaak aangespreek
Regverdiging
# Elke mens se grootste probleem is dat hy deel van die gevalle mensheid onder God se toorn is (Rom 1:18; Ef 2:3b, OAV).
Die oplossing? Om uit te kom uit die gevalle mensheid, waarvan Adam die hoof is, en deel te word van die nuwe mensheid, waarvan Christus die Hoof is (Rom 5:12-21).
# Hoe op aarde kan dit gebeur? Deur goeie werke? Baie het so gedink, en dink steeds so. Maar sulke pogings is sonder uitsondering tot mislukking gedoem.
Die regte antwoord, die volmaakte oplossing is so eenvoudig dat godsdienstiges aanstoot neem, en ongelowiges lag (1Kor 1:23).
Die evangelie beier die vreugdeboodskap klokhelder uit: Deur geloof in Christus en sy volmaakte verdienste alleen word 'n sondaar gered.
Let op die drie onderstreepte begrippe. Hulle is afsonderlik en gesamentlik kardinaal noodsaaklik: Christus red alleen. En dit gebeur deur geloof alleen.
Só, en so alléén word 'n sondaar met God versoen.
# Wanneer 'n sondaar sy volle geloofsvertroue in Jesus Christus alleen stel, word hy geregverdig (die NAV se "vrygespreek" is uiters onbevredigend soos algaande sal blyk).
Hoe werk dit? Om te verstaan, moet 2 basiese begrippe begryp en vasgehou word.
+ Plaasvervanging is aan die hart van God se verlossingsplan. As daar iets is wat die Ou Testamentiese offerdiens wou tuisbring, dan is dit hierdie waarheid. As sodanig het dit profeties vooruitgewys na die Lam van God en spesifiek sy bloedvergieting.
Toe Jesus as Hoëpriester Homself in gehoorsaamheid aan Sy Vader geoffer het, het Hy die offerdiens finaal en kulminerend vervul – en plaasvervangend vir die nuwe mensheid opgetree.
+ Toerekening is 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek – om te debiteer of te krediteer.
+ Só fundamenteel en sentraal is die beginsel van regverdiging deur geloof alleen in die Bybel, dat die apostel die twee begrippe, "regverdig"/"geregtigheid", en "gereken"/"toegereken", elkeen 11 keer in Rom 4 gebruik (v.2, 3, 4, 5, 6, 8, 9, 10, 11, 13, 22, 23, 24, 25; OAV, 2020, NIV, ESV).
En elke Bybelleser weet dat "geloof" 'n fundamentele begrip dwarsdeur die Bybel is.
# Regverdiging of regverdigmaking is dus 'n dubbelkuur – vanweë sondaars se dubbele probleem.
+ Enersyds word die probleem van skuld aangespreek.
Wanneer 'n sondaar glo, word sy skuld aan Christus toegereken, oftewel gedebiteer. Hierdie skuld het die Seun in Sy vernedering en lyding kom betaal, in die besonder op Golgota. Dit maak die gelowige In God se boeke skuldvry. Hy of sy het nou die status van iemand wat nooit gesondig het nie.
So red hulle Hoëpriester en Verbondshoof se passiewe gehoorsaamheid die núwe mensheid van die ewige verdoemenis.
+ Andersyds word die probleem van onvermoë aangespreek.
Christus se lewenslange gehoorsaamheid word aan elkeen wat glo, toegereken, oftewel gekrediteer. Dit maak die gelowige regverdig voor God en besorg aan hom in God se boeke die status van iemand wat die Wet volmaak onderhou het.
So verleen hulle Hoëpriester en Verbondshoof se aktiewe gehoorsaamheid aan die nuwe mensheid toegang tot die ewige lewe.
Die werkverbond is volkome aan voldoen
Die genadeverbond is vervul
# Nog iets wat kardinaal belangrik is, is dat regverdiging objektief is (dit gebeur búíte my – in God se boeke by wyse van spreke). Dit is as sodanig nie subjektief nie (dit gebeur nie in my belewing nie – hoewel ek die implikasies en effekte daarvan inderdaad ervaar).
Jesus het homself geoffer
# Hierbo is die uitdrukkings "passiewe gehoorsaamheid" en "aktiewe gehoorsaamheid" gebruik. Dis standaard terme, wat nuttig is om te onderskei tussen die twee aspekte van Christus se gehoorsaamheid aan Sy Hemelse Vader. Dis egter nie Bybelse begrippe nie. Ook kan dit maklik aanleiding gee tot allerlei skewe idees oor Christus se versoeningswerk.
'n Paar punte van kwalifikasie is dus nodig.
# Wat Christus passiewe gehoorsaamheid betref, moet ten minste twee dinge vasgehou word.
+ Sy lyding het nie in Getsemane en op Golgota vir die eerste maal begin nie. Dit het begin toe Hy Homself verneder het om 'n mens te word (Fil 2:6-8). Dink daaraan: Hy, deur wie God alles geskape het (Kol 1:15-20), word 'n hulpelose babatjie! Trouens, Hy word veertig weke vroeër 'n fetus in Maria se moederskoot.
Nee, reg van die begin af, en regdeur Sy lewe hier op aarde, het Hy gely – en dus deurgaans betaal aan my sondeskuld.
+ Om na 'n aspek van die Here Jesus se gehoorsaamheid as "passief" te verwys, is eintlik hoogs onbevredigend. In die kruisgebeure was Hy allermins passief – onbetrokke, bloot magteloos gedienstig en gedweë.
Die teendeel word besonder sterk deur die Nuwe Testament onderstreep. Joh 10 is veral duidelik: "Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het." (v.17-18; ook v.11,15).
God se Groot Hoëpriester is nie geoffer nie;
Hy het Homself geoffer
beslis en doelgerig!
(Heb 9:24-26. Vgl. ook Jes 53:12; Matt 20:28; Gal 2:20; Ef 5:2,25; Heb 1:3).
# Wat die Here Jesus se aktiewe gehoorsaamheid betref, hou dit nie op wanneer die klem sterker op Sy passiewe gehoorsaamheid val nie. Nee, dit kom juis tot hoogste uitdrukking in die kruisgebeure. Nooit styg Sy hartstog om Sy Vader volkome te behaag tot hoër hoogtes nie, as wanneer Hy aktief Homself vir die sondaars gee wat aan Hom toevertrou is.
# Die sg. passiewe en aktiewe gehoorsaamheid van Jesus is dus só vervleg, dat ons dit net kan onderskei, maar nooit kan skei nie.
Toepassing
1. Regverdiging hef nie die noodsaak van heiligmaking op nie, maar ewe min hef heiligmaking die noodsaak van regverdigmaking op
# Ons moet onsself voortdurend in die standaarde van God se Woord spieël. Die apostel beveel: "Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe." (2Kor 13:5).
Maar baie Christene val in die slaggat van oordrewe introspeksie – 'n voortdurende besig-wees met hoe jy as Christen vaar. Dis 'n resep vir moedeloosheid en lam geloofsknieë. Dit stroop spoedig van geloofsekerheid, asook van vrymoedigheid om te bid en te getuig. Waarom? Almal van ons se heiligmaking is pateties onvolmaak. Wie van ons haal naastenby die volmaakte standaarde van God se wet?
As ons morele en godsdienstige prestasies ons vir God aanvaarbaar moes maak, wie sou gered kon word?
Nee, ons moet voortdurend die hart en fondament van ons redding voor oë hou. Dan word ons heiligmaking dankbaarheid en nie prestasie nie. Eers die objektiewe; dan die subjektiewe.
Wáre heiligmaking is nie die trappies óp nie; dis die glyplank áf.
# Hierdie waarheid word wonderlik in die Ou Testament verbeeld.
In Num 21:4-9 raak die volk "ongeduldig" (2020) teen God. Hy stuur dan giftige slange onder hulle in, en baie sterf. As hulle egter hul sonde bely, beveel die Here vir Moses om 'n koperslang te maak en dit op 'n paal te sit.
Elkeen wat gepik was en na die koperslang opgekyk het, is toe genees. Die antwoord het nie in menslike pogings en middele gelê nie. Nee, hulle moes bloot hulle oë op die koperslang vasnael! (v.4-9).
Was God se wonderlike genade-ingryping 'n vrypas om vorentoe maar weer en weer ongeduldig te raak? Inteendeel! Hulle moes júís uit hulle ervaring leer dat sulke ongeduld niks minder is nie as rebellie teen die Here. En hulle moes besef dat 'n herhaling tot erger straf sou lei.
Dit het egter weer en weer gebeur – tot so 'n mate dat die apostel eeue later kon skryf dat God "... in die meeste van hulle nie 'n behae gehad het nie, want hulle liggame is in die woestyn verstrooi" (1Kor 10:5 en konteks). Trouens, uiteindelik is nie een van daardie geslag Kanaän binne nie, behalwe Kaleb en Josua.
# Máár: As Jesus eeue later met Nikodemus oor die ewige lewe praat, gebruik Hy óók hierdie gebeurtenis om na Sy komende kruisdood te verwys (Joh 3:14-15).
Om in Christus te glo
is om in afhanklike vertroue
lewenslank, enduit
jou oë vas te nael op die Gekruisigde
en op Hom alleen
OM TE GLO – IS OM TE KYK
# Dis waarom "die bloed van die Lam" sonder uitsondering die "aanklaer van die broeders" skaakmat plaas (Op 12:10-11). Na tweeduisend jaar het ons vyand steeds geen antwoord op hierdie onweerspreekbare stelling nie: Christus se versoeningswerk is volkome, finaal, onomkeerbaar, afgehandel!
# Van elkeen in Christus geld dit op hierdie oomblik: Tot in ewigheid sal jy nie 'n heerliker status in God se boeke geniet as tans nie. Want jou saldo – nóú reeds – is dié van jou volmaakte Plaasvervanger.
# Nie 'n enkele persoon wat met Christus verenig is, het dus 'n hoër status as die res nie, want almal het presies diesélfde saldo – die van die Middelaar.
2. As jy deur geloof met Christus verenig is, is daar nie 'n enkele letter van die Wet wat opgeroep kan word om teen jou te getuig nie
Stel jou 'n tipiese gesprek tussen die Wet en 'n ware Christen voor:
Wet: "Het jy my gebooie gehou?"
Christen: "Nee, helaas nie!"
Wet: "Wel, het jy die straf vir ongehoorsaamheid betaal?"
Christen: "Nee, nie self nie. Maar Christus het dit vir my betaal!"
Wet: "En die voorwaardes vir die ewige lewe – het jy die toets geslaag?"
Christen: "Nee, self sal dit nooit kan regkry nie. Maar Christus het dit vir my gedoen!
En hier kom die gesprek summier tot 'n einde. Die laaste woord is gespreek.
3. Aan die begin is gevra: Wat is die diepste grond van jou redding?
Het jy dalk in die slagyster getrap – deur "geloof" te kies?
Dis sou 'n 'n fatale flater wees! Trouens, dis diskwalifiserend!
Nooit ooit kan iets in mý die diepste grond vir my redding wees nie. Geloof is net die hande waarmee ek Christus se verbondsgetrouheid vasgryp – niks meer nie!
Nee, die antwoord is wetsgehoorsaamheid! Nie myne nie, maar Christus s'n!
4. En waar sou jy wou bly?
Die keuse is voor die hand liggend. Adam se paradys was 'n volmaakte plek, met die ewige lewe as 'n werklike moontlikheid – maar nét as 'n moontlikheid.
Die Christen se huidige wêreld is 'n baie onvolmaakte plek, maar met die ewige lewe as 'n onaantasbare en onomkeerbare feit!
5. Is jou volle sekuriteit – vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid – in Jesus Christus en in Hom alléén?
Indien jou dankbaarheid vir volkome verlossing in Christus só werklik is dat dit jou dring om jou Verlosser met alles wat jy is en het te dien, het jy alle rede om te glo dat jy geregverdig is, dat die dubbelkuur ook op jóú van toepassing is.
As jy nog nie in hierdie genadetyd in Christus ingevlug het nie
weet dit
die uitnodiging – maar ook die bevel – staan steeds
"elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry,
verniet!"
(Op 22:17).
DIE VOORTGANG
Inleiding
In die voorafgaande gedeelte het ek gesê dat die Seun se taak twee groot komponente het.
Eerstens, om die objektiewe regsbasis vir hierdie mense se verlossing daar te stel.
Tweedens, om hierdie verlossing in hulle lewens te verwerklik, of toe te pas.
Ons het toe na eersgenoemde gekyk. Nou fokus ons op die tweede.
Is Christus se middelaarswerk op Golgota afgehandel? Ja en nee!
# Die Woord beklemtoon keer op keer dat ware gelowiges se redding onomkeerbaar op Golgota verseël is. Die regsbasis is onvernietigbaar gelê – eens en vir altyd, soos die Hebreërboek dit so sterk beklemtoon.
Maar die redding wat op Golgota en die Here Jesus se opstanding vir ons bewerkstellig is, moet in sy bruidsgemeente se lewens verwerklik word – kop vir kop. En dit gebeur uiteraard voortgaande.
Dit is waarom daar sonder sy opstanding geen redding sou wees nie. Want toe het Christus se voortgaande hoëpriesterlike werk 'n aanvang geneem.
Sonder die Here Jesus se kruisdóód is daar geen redding nie;
maar te min besef
sonder Sy opgestane léwe daarna was dit ewe onmoontlik!
'n Ewige hoëpriester
# "Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel." (Heb 8:1). Christus is steeds hoëpriesterlik besig; trouens, Sy priesterskap is ewig (Heb 7:22-25).
Die Nuwe Testament het nie baie besonderhede hieroor nie, maar dit openbaar genoeg om ons elke dag te bemoedig en lewenslank te vertroos.
# In hierdie verband maak die Hebreërskrywer baie van die feit dat die Here Jesus 'n ewige priester volgens die orde van Melgisedek is (5:6,10; 6:20; 7:21).
In 7:1-17 antisipeer en antwoord hy 'n vraag wat waarskynlik in sy Joodse lesers se gemoedere leef: Hoe kan Jesus 'n priester wees, aangesien Hy uit die stam van Juda, en nie uit Levi is nie? (7:13-14). Dis juis die punt wat begryp moet word, sê hy dan. Jesus is nie net 'n priester nie, Hy is 'n koninklike-priester – van 'n hoër priesterorde as die van Aäron en die Leviete.
# Melgisedek was koninklike priester van Salem in die tyd van Abraham. Hy verskyn en verdwyn ewe skielik (Gen 14:18-20). Die Ou Testament verwys net nog een maal na hom, en wel in die Messiaanse profesie van Ps 110:4.
As priester van die Allerhoogste God (7:1) was hy 'n skaduagtige vooruitwysing na die Messias. Die Hebreërskrywer argumenteer – veral vir ons moderne mense op 'n eienaardige manier – vanuit veral 3 dinge om sy punt tuis te bring:
+ Abraham het 'n tiende aan Melgisedek betaal, en dié het as priester vir Abraham geseën. Op daardie stadium was die hele stam van Levi nog by wyse van spreke in Abraham se lendene. Deur hulle familiehoof het die Leviete dus tiendes aan Melgisedek betaal en is hulle deur hom geseën. Dis gevolglik voor die hand liggend watter priesterorde die hoogste is (7:2, 4-10).
+ Melgisedek se priesterskap is ewig, anders as die van die Leviete. Mens lees per slot van rekening niks van sy vader of moeder, of van sy geboorte of afsterwe nie (7:3).
+ Salem het later die Stad van Dawid geword – Jerusalem. Koning Dawid is gevolglik erfgenaam van die dinastie van Melgisedek. En Dawid is uit die stam van Juda – soos ook Jesus!
Christus is dus 'n priesterlike koning, en 'n koninklike priester!
Christus tree in die hemel op – ter wille van ons
# Heb 9:24b verseker ons dat Jesus Christus in die hemel self ingegaan het om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Hebreërs 7:25 sê Hy lewe vir altyd om vir die gelowiges by God in te tree. Hebreërs 2:17-18 en 4:14-16 bemoedig ons om in getrouheid en gebed te volhard, omdat ons 'n Hoëpriester vol medelye in die hemel het.
Ou Testamentiese wortels
# Eks 28:9-30 (vgl. ook Eks 39) sê dat Ou Testamentiese hoëpriesters met 2 stene op die skouers en 12 op die bors voor God verskyn het. Op beide hierdie stelle stene is die name van Israel se 12 stamme gegrafeer. So is die stamme, dus die hele verbondsvolk se name in die teenwoordigheid van die Here ingedra om Hom aan hulle te herinner (Eks 28:12, 29, 30).
+ Duidelik sinspeel die Hebreërskrywer hierop as hy sê dat Christus nou ter wille van ons voor God verskyn (9:24). Hy dra as 't ware diegene wat deur die geloof met Hom verenig is op Sy sterk skouers en liefdevolle hart weer en weer tot reg voor die Vader se genadetroon om Hom aan hulle te herinner.
Die dubbele gerigtheid van Christus se voorspraak
# Die Nuwe Testament in die algemeen, en Hebreërs in die besonder, dui op twee
gerigthede in ons Here se voorspraak vir Sy aardse heiliges: eerstens hulle bewaring, en tweedens hulle vervolmaking. Sy voorspraak is gerig op die instandhouding en bewaring van Sy geliefdes in 'n bose en vyandige wêreld.
# Wat die instandhouding en bewaring van Sy geliefdes betref, is Heb 2:17-18 veral betekenisvol: "Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word."
+ Die Here se voorspraak geskied in diepe meegevoel en solidariteit met ons, aangesien Hy in Sy vernederde staat ook deur swaarkry, vervolging en versoeking moes gaan. Een van die redes waarom Hy moes mens word en 'n tydlank op aarde tussen mense leef, was om Hom voor te berei vir híérdie voortgaande bediening.
+ Hierin lê wonderlike troos vir die Christen-pelgrim: Ons het 'n simpatieke verteenwoordiger in die hemelse troonkamer. As Hy oor die afsterwe van Lasarus gehuil het, hoe sou Hy klinies-afsydig kon staan as ék op my sterfbed worstel?
+ Laat ons nooit vergeet nie: Sy bewarende meegevoel is almagtig (1Joh 5:18) en Sy voorbidding absoluut effektief (Joh 11:42).
# In Rom 8:31-39 jubel Paulus dat diegene wat met Christus deur die geloof verenig is, nooit van Sy liefde geskei kan word nie. En een van die redes daarvoor is die feit dat Christus by God vir hulle pleit (v.34).
# In 1Joh 1:8-2:2 moedig die apostel gelowiges aan om teen sonde te stry, maar om ook met vrymoedigheid om vergiffenis te bid wanneer hulle geswig het – omdat ons in Christus 'n voorspraak by die Vader het.
Hy tree dus nie net vir ons in as ons met lyding, versoekinge en vyandskap worstel nie, maar ook wanneer ons per geleentheid in die stryd misluk.
# 'n Voorbeeld van sulke voorbidding word in Luk 22:31-32 beskryf. Voor Petrus se val bid die Here dat sy geloof hom nie sal begewe nie, en dat hy na sy inkeer 'n sinvolle bediening sal hê. Let wel, Jesus het nie gebid dat Petrus nie moet val nie (dit was oënskynlik baie nodig vir sy heiligmaking), maar dat hy nie moes bly lê nie.
Let verder op dat die Here kennelik nie vir Judas Iskariot gebid het nie.
Sy voorspraak is gerig op die voltooing en vervolmaking van ons verlossing – ons wat deur die Vader aan Hom toevertrou is.
# Oor Christus as hemelse Hoëpriester sê die Hebreërs: "..maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree." (7:24-25, OAV).
Hierdie verse kan inderdaad op twee maniere vertaal word, soos die NAV en NIV voetnota toon, maar die OAV en NIV se vertalingskeuse pas waarskynlik beter in die
konteks. Daar sit beweging in die Grieks: Hy red diegene wat deur Hom na God gaan – in volkomenheid in. En Hy doen dit as Priester wat vir altyd leef om vir hulle by God in te tree.
+ Die verlossing van 'n sondaar is 'n proses, en die Nuwe Testament praat daarvan in 3 tye. Ons is gered (verlede tyd) (Luk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (teenwoordige tyd) (1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (toekomstige tyd) (Rom 13:11; 1Pet 1:5).
Hierdie proses word voortgestu deur ons hemelse Hoëpriester se voorspraak.
+ Die Here was baie bewus daarvan dat die uitverkorenes as rentmeesterskap deur die Vader aan Hom gegee is – met die verantwoordelikheid om alles te doen wat vir hulle redding, herskepping en finale heerlikmaking nodig sou wees. Voordat een en elkeen van hulle nie uit die dood opgewek is nie, sal Sy taak nie voltooi wees nie (Joh 6:38-40, 44, 54; 10:25-30) – waarskynlik tot in ewigheid nooit nie.
# Terwyl dit die Vader se genade en die Seun se voorspraak is wat die uitverkorenes se verlossingsproses voortstu, is dit die Heilige Gees wat dit in hulle lewens verwerklik.
Die aand voor Sy kruisiging belowe die Here Jesus dan ook dat Hy Sy dissipels nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar dat Hy die Vader sal vra om na Sy vertrek 'n ander "Parakleet" vir hulle te stuur (Joh 14:16-18; 2020).
Die antwoord op hierdie gebed vind op die Pinksterdag plaas met die uitstorting van die Heilige Gees nadat die verheerlikte en verhoogde Christus die belofte, waarop eeue gewag is, van die Vader ontvang het (Hand 2:33). En sonder die daaropvolgende werk van die Gees is die voortgang en volvoering van die verlossingsplan ondenkbaar.
Die hoëpriesterlike gebed in Johannes 17
# Christus se gebed is aangrypend en betekenisvol. Enkele sake staan uit.
+ Hy bid nie vir die wêreld nie, maar net vir diegene wat die Vader vir Hom gegee het (v. 2, 6, 9, 24).
+ Hy bid onder meer vir sy bruidsgemeente se bewaring in 'n bose omgewing (v. 11-12, 14-16), vir hulle onderlinge eenheid (v. 21-23) en vir hulle uiteindelike verheerliking (v.24).
+ Hy het hierdie gebed spesifiek gebid terwyl Sy dissipels nog by Hom was sodat hulle Sy blydskap in alle volheid in hulle kon hê (v. 13).
Hy het dus bedoel dat die dissipels die gebed moes hoor. Waarom? Die Here wil hê dat ons wat aan Hom behoort ons in Sy voorspraak moet verlustig en weer en weer troos en sekuriteit daaruit put.
Só, kan ons met sekerheid aanvaar, bid Hy steeds.
Wat beteken dit alles vir ons vandag?
1. Elke stukkie werklikheid en egte belewing van my Christenskap is 'n uitvloeisel, nie net van ons Hoëpriester se afgehandelde genoegdoening nie, maar ook van Sy voortgaande voorspraak.
Dit sluit roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding in. Hier is die oorsprong van elke stukkie insig en oortuiging; van my aanbidding, liefde en ywer; van my gehoorsaamheid en vrug; van my heiligmaking en gebedsverhoring.
Ons Middelaar is persoonlik en puntenerig ingestel op elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het. Hy sal nie Sy voorspraak staak voordat elkeen van Sy kosbares tuisgekom het nie. Hy sal aanhou totdat Hy en Sy hele bruid finaal verenig is.
Só bid die Here in Joh 17:24: "Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle My heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
Leef jy met 'n blymoedige hart dag na dag in hierdie sekuriteit? Hou jy soos 'n drenkeling aan hierdie waarheid vas wanneer beproewinge jou wil verswelg?
2. Kan jy nou sien waarom Paulus sê álles – ons geloof en ons prediking – is tevergeefs as Christus nie opgestaan het nie (1Kor 15:12-19)?
Sy voortgaande voorspraak is nie die enigste rede waarom Hy persoonlik, fisies en histories moes opstaan nie, maar daarsónder was ek gewis steeds geestelik dood en verlore. En uiteraard sou daar ook geen vrug vanuit my getuienis voortgekom het nie.
3. In watter verskriklike en ellendige toestand verkeer die ongelowiges nie!
In Joh 17:9 sê die Here Jesus uitdruklik: "Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort."
Hy sê dus uitdruklik dat Hy nie priesterlik vir mense bid wat onomkeerbaar deel is van die gevalle God-vyandiggesinde wêreld nie. Hulle is sonder God en sonder hoop in die wêreld. Hulle gaan gevolglik God se Regterstoel tegemoet sonder 'n Middelaar en 'n Advokaat. Hulle skuld is nie gedelg nie; hulle het net hulle eie geregtigheid (of gebrek daaraan!) om aan die Driemaal-Heilige te bied. Van diegene wat op die oordeelsdag só voor die Groot Regter verskyn, sê God se Woord duidelik dat hulle onvermydelike eindbestemming die poel van vuur is! (Op 20:11-15).
Is dit al wat mens vir iemand kan sê wat nie deur die geloof met Christus verenig is nie?
Nee! 'n Duisend maal, nee! In Sy Hoëpriesterlike gebed bid Christus ook vir diegene wat deur die apostoliese getuienis – die Nuwe Testamentiese evangelie – tot geloof in Hom sou kom (Joh 17:20).
Vir elkeen wat dus wegdraai van sy sonde en in Christus invlug, is daar die sekere belofte dat die Hoëpriester se afgehandelde en voortgaande werk ook op hom of haar van toepassing sal wees. Dis die goeie nuus van die evangelie waarvan en waaroor ons óók uit eie ervaring kan getuig!
4. Die Hebreërboek beklemtoon dat die Hoëpriester se voortgaande werk ingrypende implikasies vir ons eie gebedslewe het.
Die een groot effek wat dit op ons behoort te hê, is die van heerlike vrymoedigheid om weer en weer die genadetroon van ons hemelse Vader op te soek.
Luister na Hebreërs: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (4:14-16).
En: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water." (10:19-22).
+ Wat is vrymoedigheid? Die Griekse woord (parresia) is vol betekenis: Openlik, nie bang, beskeie of terughoudend nie, maar in vryheid en versekering.
+ Dit behoort nou vir elkeen duidelik te wees dat gebedsvrymoedigheid en gebed in die Naam van Jesus Christus onlosmaaklik hand-aan-hand loop.
+ Hierdie vrymoedigheid is geen ligtelike of opsionele saak nie. Dit lê aan die hart van ware gebed. Wat meer is, ons moet dit onder geen omstandighede prysgee nie, maar ons daarin oefen – aangesien dit 'n groot beloning inhou (Heb 10:35, OAV).
+ Onthou dan, as jy in Christus is, staan jy voor God op grond van Sy eie Seun se verdienste. Wat meer is, in Hom – jou Middelaar, die mens Christus Jesus (1Tim 2:5) – het jy 'n Hoëpriester in die hemelse troonkamers. Maak staat op Sy voorspraak. Vir Hóm sê die Vader nooit "Nee" nie. Daarom is 'n enkele versoek uit Sy mond meer werd as die pleidooie van 'n legioen engele.
# Dis nou duidelik dat ons moet seker maak ons gebede is in volle harmonie met Christus se voorspraak. Hoe kan ek in Sy Naam bid, as my gebedsvertoë uit pas is met Sy wil?
Hoe kan ek weet wat Sy wil is? Daar is maar een antwoord: Die Woord van God!
Hoe beter ek God ken – Sy Woord, Sy wese, Sy weë, Sy waarheid, Sy wysheid – hoe sekerder sal my gebede 'n eggo wees van my hemelse Hoëpriester se voorspraak. En dit is waaroor voorbidding én afbidding gaan: Om ook hierin 'n medewerker van my Verlosser te wees.
5. As Christus ewig lewe om t.w.v. my by die Vader in te tree, hoe kan ek dan anders as om hier op aarde teenoor mense van en vir Hom te getuig?
As Hy nie huiwer om my naam op Sy bors en skouers in die Allerheiligste in te dra nie; hoe kan ek my dan vir Sy Naam en evangelie in 'n vyandige wêreld skaam? Luister wat sê Hy in Matt 10:32-33: "Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is."
As Hy nie skaam is om my naam na die Vadertroon toe te dra nie,
hoe sal ek skaam wees om sy Naam na die wêreld toe te dra?
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
YouTube: Nico van der Walt - ImagoDei
[1] Rom 3:25; 1Kor 10:1–4; Heb 9:15.
[2] Vergelyk ook 11:40 en 12:24.
[3] Heb 5:6,10; 6:20; 7:1,15,17 (uiteraard moet dit saam met die konteks gelees word). Vir meer besonderhede hieroor, verwys Langer studies 059c. p.2.