Preekopname: https://tinyurl.com/ycym8ru4
2 Kor 5:9-10
9."Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees.
10.Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was."
1Kor 3:10-15
10. Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou.
11. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus Christus.
12. Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi –
13. elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel.
14. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang.
15. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
1Kor 9:24-26
24 Weet julle nie dat die atlete wat in 'n stadion aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang.
25 Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om 'n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons 'n onverganklike.
26 Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie.
27 Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.
-o0o-
Híéroor is God se Woord baie duidelik: Ook diegene wat in Christus sterf, sal die eindoordeel moet deurgaan. En hulle sal aan presies diesélfde norme gemeet word as die ongelowiges. "God trek immers niemand voor nie" (Rom 2:11; NAV).
Hy het nie witbroodjies nie! Hy meet nie met dubbele standaarde nie!
In 'n sin is die Christelike lewe hier en nou niks anders nie as die Here God se gereedmaking van Sy kinders vir dáárdie dag van afrekening.
Want Hy werk nou heiligmakend só in die uitverkorenes
dat nie 'n enkele een van hulle op daardie dag verleë sal staan nie.
Selfs diegene wat verwerp word – sélfs die duiwel – sal op daardie dag geen fout kan vind met die feit dat miljoene ewige loon ontvang nie. God se vyande sal moet toegee: Elkeen – gered en ongered – ontvang presies in ooreenstemming met die lewe wat hy of sy in hierdie lewe geleef het.
Laat ons nooit die volle evangelie vergeet nie: Ja, ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, en deur geloof alleen. En oor hierdie mees fundamentele kant van ons verlossing sal ons nooit kan ophou juig nie.
Maar ons mag nie hier stop nie! Ons word eweneens gered tót heiligheid, goeie werke en gehoorsaamheid – en daarom uiteindelik ook vólgens die lewe van geregtigheid waartoe die Heilige Gees ons in staat gestel het, nadat Hy ons geroep en wederbaar en geheilig het vanuit 'n God-vermydende hartsgesteldheid en 'n selfgesentreerde lewe.[1]
Die finale eindoordeel het twee samehangende komponente
# Eerstens praat die Skrif oor die skeiding van diegene wat gered is, en diegene wat nie gered is nie – soos byvoorbeeld in Matt 25:31-46, waar die skape en bokke van mekaar afgekeer word. Onmiskenbaar duidelik geskied dit aan die hand van die lewens wat die mense geleef het (vgl. ook Rom 2:6-11). Omdat hierdie twee groepe radikaal verskillende bestemmings het, kan hulle nie langer deurmekaar loop nie.
# Tweedens praat die Skrif dan van 'n beoordeling van gelowiges se lewens met die oog op hulle ewige loon (o.m. Matt 10:40-42; Mark 9:41; Luk 14:12-14; 1Kor 3:10-15; 2Kor 5:9-10; Ef 6:8; 2Joh 8).
Let op dat hierdie mense se saligheid nie nou op die spel is nie. Ons praat immers van diegene wat deur 'n ware geloof vir tyd en ewigheid met Christus verenig is.
Ons sal die res van hierdie studiestuk aan hierdie tweede aspek van die eindoordeel wy. In die proses sal ons konsentreer op uitsprake in die Korintiërbriewe. Ons drie teksgedeeltes sny meeste van die beginsels aan wat ter sprake is as ons 'n Bybelse perspektief op híérdie komponent van Christene se eindoordeel wil bekom.
2 Kor 5:9-10: Basiese beginsels
# Vers 10 begin met "want" (2020; OAV) of "immers" (NAV). Dit verduidelik dus die voorafgaande vers 9.
Ook v.9 hou verband met die voorafgaande ("Daarom", 2020; OAV). Paulus skryf na aanleiding van die komende dood en die implikasies daarvan (v.1-8).
# As die apostel sê hy "streef" (v.9), naamlik om te lewe soos die Here wil, gebruik hy 'n woord wat beteken om ambisieus te wees. Dit is dus sy brandende hartstog om in alles wat hy doen die Here te behaag.
# Ons "almal" (v.10) moet voor die regterstoel verskyn – selfs Paulus en die ander apostels. Vir een en elkeen sal daar dus 'n dag van beoordeling kom.
+ Ons wat in Christus is, kan en moet ons verheug in die wonder van onomkeerbare regverdiging, en die sekere vooruitsig op ons komende heerlikmaking. Máár dit onthef ons nie van die gewigtige verantwoordelikheid om lewenslank en puntenerig in die lig van Christus se komende regterstoel te leef nie.
Sekerlik is 'n hartstog vir God se verheerliking en dankbaarheid vir die Here se groot verlossingsdade 'n genoegsame rede vir 'n lewe wat dit najaag om Hom te behaag en verheerlik. Máár daar is nóg 'n rede: My lewe hier en nou bepaal my loon, al dan nie, in die hiernamaals!
# As die apostel skryf dat ons voor Christus sal "verskyn" (v.10), gebruik hy 'n sterk woord: Ons sal blootgelê word, gestroop van elke fasade van skyn en ordentlikheid – om totaal en volledig geopenbaar te word vir wie en wat ons was.
Die beoordeling sal dus baie deeglik wees. Alles sal in ag geneem word.
# Elkeen sal "ontvang" (v.10) volgens wat hy of sy tydens hierdie aardse lewe gedoen het. Eintlik wil die Grieks sê dat 'n mens dit sal terug ontvang. Dit hou verband met mens se aardse lewe. Dit sinspeel op onpartydige en regverdige beoordeling.
# 'n Versigtige lees van die teks bied nog 'n belangrike perspektief – op twee maniere.
+ Eerstens, die werkwoord "gedoen" (v.10) is 'n eenvoudige verlede tyd. Vanaf die regterstoel word dus teruggekyk op iemand se lewe as 'n eenheid, as 'n geheel. Dit gaan oor wat jy tipies gedoen het.
+ Tweedens, in v.10 skryf Paulus, letterlik, ons sal die dinge (Gr. meervoud) terug ontvang wat in die liggaam gedoen is, of dit (enkelvoud) goed was of kwaad.
Hierdie oorgang van die meervoud na die enkelvoud is verrassend, maar ook betekenisvol. Wat dit wil tuisbring, is dat, hoewel niks die beoordeling sal ontglip nie (dinge, meervoud), sal ons lewens en dade as 'n geheel beoordeel word (enkelvoud).
Die implikasie is dat geen enkele daad of versuim met sekerheid uitwys of iemand genade ontvang het, al dan nie. Nee, al die besonderhede van my lewe gesamentlik – my tipiese gedrag, my lewenswyse, my najaging – wys uit wie ek werklik in my diepste wese is.
My lewe, nadat ek met Christus verenig is, sal dus as 'n geheel beoordeel word. Dit sal nie net uitwys of ek inderdaad deur die Gees van God herskep is nie, maar dit sal ook my loon bepaal.
# Die Griekse woord wat met "kwaad" (v.10) vertaal word (wat die teendeel is van dit wat "goed" is), beteken eintlik waardeloos. Dit dui dus op dit wat geen gewig voor die Regter sal dra nie. Selfs al sou dit nie sonde as sodanig wees nie, sal Hy dit as irrelevant en betekenisloos ag.
Dit bevestig die res van die Nuwe Testament se getuienis dat die regterstoel vir die Here se kinders nie 'n strafbank sal wees om 'n vonnis uit te meet nie.
Nee, dis 'n waardebepaling om uitspraak te gee
oor die loon wat elke dissipel van Jesus moet kry.
1Kor 3:10-15: Ons bouwerk sal deur en deur beoordeel word
# Elke ware gelowige bou uiteraard op Jesus Christus – die fondament wat reeds gelê is (v.11). Hier is nogeens 'n herinnering dat ons nie van ewige redding, al dan nie, praat nie.
Máár elkeen "moet egter let op hóé hy daarop bou" (v.10b). Ons werk gaan immers "aan die lig" kom (v.13). Dis dieselfde begrip wat ons in 2Kor 5:10 raakgeloop het: Ons werk sal blootgelê word; dit sal gesien word vir presies wat dit was.
# Ons bouwerk sal "soos deur vuur" getoets word – dus deur en deur.
Slegs as ons kwaliteitsmateriaal gebruik, sal ons loon kry. Verbrand ons werk egter, sal ons nie beloon word nie – hoewel ons "self gered sal word."
Sien jy, soos reeds gesê, dit gaan nie nou oor redding nie, maar oor loon.
# In vers 13 skryf die apostel dat die gehalte van elkeen se werk "op die proef" gestel sal word – dit sal getoets word (NAV).
+ Daar is veral twee woorde in Grieks wat dui op die aanlê van 'n toets (Gr. dokimazo en peirazo).
Laasgenoemde woord dui op 'n toets wat óf met geen verwagting oor die uitkoms nie, óf dikwels met die verwagting van 'n negatiewe resultaat, aangelê word.
Maar dis eersgenoemde woord wat híér gebruik word. Dikwels dui dit op 'n toets wat met optimistiestiese verwagting aangelê word – dat die uitkoms dus positief sal wees.[2]
= In Luk 14:19 en Joh 6:6 blyk die betekenis van die woorde duidelik.
Johannes 6:6 gebruik die negatiewe begrip, peirazo. Dis 'n toets wat die Here Jesus op Filippus aanlê om sy kleingeloof uit te wys. Wat gebeur, is dat daar 'n skare is wat moet kos kry. Dan sê Jesus vir Sy dissipel, "Waar sal ons brood te koop kry ...?" Al waaraan Filippus kan dink, is dat hulle nie genoeg geld het vir al die kos wat nodig is nie. As hy egter die geloof gehad het wat Jesus verwag, sou hy waarskynlik gesê het dat daar vyf broodjies en twee vissies is, en dat die Here dit sekerlik kan vermeerder. Maar Jesus weet hy het nié hierdie geloof nie en wil dit sagkens vir hom aan die verstand bring.
Daarenteen vertel Luk 14 van 'n man wat osse gekoop het en hulle dan wil uitprobeer. Hier word die positiewe begrip, dokimazo gebruik. Die suggestie is dus dat hy nie kan wag om te sien hoe goed sy nuwe aanwas gaan vaar nie. Sy verwagting is positief.
+ Die vuurtoets, eendag, sal dus nie daarop ingestel wees om alles wat sleg was in ons lewens uit te wys nie. Dit sal ons nie wil verneder of uitvang nie. Inteendeel, dit sal juis die goeie wil uitwys! Dit sal niks wat beloon kan word, wil oorslaan nie.
Vir God se kinders, ten spyte van die skrikwekkende gewigtigheid van die geleentheid, sal die eindoordeel gevolglik ook 'n blye oomblik wees. Meer nog, dit sal gepaard gaan met onbeskryflike vreugde oor die wonderlike loon wat toegeken word – 'n welgeluksalige lewe, onbeskryflik in heerlikheid, tot in alle ewigheid.
# Terwyl elkeen wat iets verstaan van die gewigtigheid van daardie ontmoeting met Christus nie anders kan as om dit met "ontsag" tegemoet te gaan nie (2Kor 5:11), is dit ook so dat ons met positiewe verwagtinge daarna kan en moet uitsien.
+ Dis soos 'n student wie se maag gespanne ineentrek as hy aan sy naderende finale eksamen dink. Maar dis 'n goeie ding, want dit spoor hom des te meer aan om hard te werk. En uiteindelik gaan hy die eksamen met opgewonde afwagting tegemoet. Hy het alle rede om te glo dat hy goed sal slaag – en dat dit die behaling van sy graad sal beteken.
+ Gelowiges kan die eindoordeel dus vol verwagting benader, nie negatief nie. Wat hier beskryf word, is die prysuitdeling!
1Kor 9:24-26: Die apostel se gesindheid
# Die apostel Paulus het dit waarna ons tot nou toe gekyk het, met alle ywer uitgeleef. Hy wou ten alle koste met goud, silwer en edelstene bou. In 1Kor 9 skryf hy dat hy sy Christelike wedloop voluit hardloop.
+ As hy in v.24 sê dat net één die prys kry, bedoel hy nie dat net één persoon eendag beloon sal word nie. Dis sy manier om te sê, aangesien net één in 'n gewone wedloop die wenprys kry, is alle atlete wat ernstig is, ingestel op die eerste plek.
Net so moet dieselfde gesindheid van toewyding ons geestelike wedlope kenmerk. Ons moet dus "gaan vir goud"!
+ Vergelyk mens v.27 in die OAV, enersyds, en die 2020 en NAV, andersyds, kom jy 'n verskil agter. Laasgenoemde is 'n beter weergawe van Paulus se bedoeling. Hy sê nie dat hy bang is om verwerp te word nie. Hy is nie bevrees dat hy verlore sal gaan nie. Daarvoor is hy té gevestig in Christus, té oortuig van die onomkeerbaarheid van sy regverdiging. Wat hy sê, is dat hy alles in die stryd werp sodat hy nie vir die prys gediskwalifiseer sal word nie (NIV). Hy wil nie loon inboet te wyte aan laksheid nie. Ten alle koste wil hy verhoed dat sy lewenswerk – of 'n deel daarvan – in rook opgaan.
+ Wat het Paulus se wedloop ingehou? Per slot van rekening het elkeen van ons 'n eie roeping en eie gawes. In die apostel se geval moet hy die evangelie op skrif stel en dit so ver en wyd as moontlik verkondig.
Dis in die uitvoering van híérdie taak wat hy al sy kragte inspan (v.23). En hy maak geen geheim daarvan dat sy oë op die loon vasgenael is nie. Hy sê dit openlik: "sodat ek daarin mag deel." Die NAV vat die idee vas: "... sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê." (vgl. ook NIV en ESV).
# Weer en weer word dit duidelik in die Nuwe Testament hoe ernstig die apostel Paulus oor hierdie saak was – selfs tot in die fynste besonderhede.
Hy skryf in 1Kor 4:5 dat die Here die dinge wat in die duisternis verborge is, aan die lig sal bring en die bedoelings van die hart sal blootlê. Hy neem dus die Here Jesus se waarskuwing in Luk 12:1-3 baie ernstig op: daar is niks geheim wat nie bekend sal word nie.
+ Woorde soos hierdie wil 'n mens se keel laat toetrek, nie waar nie. Maar kyk hoe sluit die apostel 1Kor 4:5 af. Voorop in sy gedagtes is nie verleentheid en verlies wat sal volg op blootlegging nie, maar God se lof! Sien jy die positiewe raak – nogeens.
Kom dus en blyop die voorvoet
wat jou gehoorsaamheid en goeie werke betref!
Wat sê dit onder meer vir ons?
1. Sien jy die kontinuïteit, die deurlopendheid tussen hierdie lewe en die lewe hierna?
As die graad van jou heerlikheid eendag, in die sin soos gesien, afhang van jou getrouheid en toewyding hier en nou, moet jý as persoon en individu mos bly voortbestaan. Jy sal dus jou identiteit behou – net soos die Here Jesus nadat Hy opgestaan het.
In antwoord op sekere dwaalleraars wat beweer het dat 'n ánder liggaam as my huidige eendag sal opstaan, sê die ou kerkvader, Chrisostomus: "Hoe so? Sê my, sal één sondig en 'n ander gestraf word; sal één goed doen en 'n ander gekroon word?"
2. Sien jy die noodsaak van wedergeboorte?
Wedergeboorte is 'n hartsverandering – jou diepste wese word herskep. En dit alléén kan 'n sondegevalle mens se verdorwenheid só verander dat geregtigheid die tipiese van sy lewe word.
Nooit mag ons vergeet dat die wedergeboorte 'n absolute voorvereiste is vir 'n egte Christelike lewe nie. In 2Kor 5:17 skryf die apostel: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword".
Voordat hierdie herskepping nie met 'n sondaarmens gebeur nie, is dit vir hom onmoontlik om 'n lewe te leef wat as geheel eendag die toetse van Christus se regterstoel sal slaag. Trouens, hy of sy sal selfs nie gered word nie (Joh 3:3,5).
As Johannes in sy eerste brief die merktekens van die wedergeboorte behandel, is twee daarvan oorwinning oor sonde en die doen van geregtigheid (1Joh 3:9; 2:29). In beide gevalle gebruik die apostel 'n werkwoordsvorm wat dui op voortgaande en tipiese handeling (vgl. NIV; ESV).
Presies dít is wat Christus eendag sal soek as Hy loon uitdeel.
3. Laat ons goed kennis neem van die maatstawwe wat eendag op ons aangelê sal word.
Die apostel Paulus het presies geweet waaroor dit gaan en wat sy lewenstaak was. Hy het die reëls van die geloofswedloop geken. Hy het geweet wat beloon gaan word en wat waardeloos is. Sy teiken was vlymskerp voor hom afgeëts. En tyd en energie het hy nie op beuselagtighede verspil nie.
Nou sal talle sê, dis juis my probleem, ek weet nie wat my roeping is nie. Wat is die Here se wil vir my lewe?
Gewis is dit 'n baie groot seën as mens jou nis in die koninkryk gevind het – en hoe vroeër hoe beter. Maar gewoonlik kom dit eers met toenemende ervaring en ouderdom.
Maar, sal jy dalk sê, wat moet ek intussen doen? Moet ek bloot maar wag? Allermins!
As mens die Bybel versigtig lees, sien jy dat die beoordeling op daardie dag veral sekere dinge in ag sal neem. Laat ons daarvolgens leef, en ons kan verseker wees dat die regterstoel van Christus gevolg sal word deur 'n wonderlike prysuitdeling.
Op grond van die Skrif kan ons met sekerheid sê dat die volgende dinge in ag geneem sal word deur die Groot Beoordelaar.
3.1 Ons getrouheid en gehoorsaamheid
In die gelykenis van die talente sê die eienaar vir die slawe wat hy beloon: "Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!" (Matt 25:21, 23).
Hierdie slawe het hulle baas se opdragte ernstig opgeneem en puntenerig uitgeleef. Sý belange was vir hulle voorop, nie hulle eie gerief of voordeel nie.
3.2 Ons motiewe en gerigthede
By meer as een geleentheid bring die Here Jesus ons motiewe hier en nou, en ons ewige loon, in direkte verband met mekaar (Matt 6:1; Luk 12:1-3).
Gaan dit vir jou vandág oor die goedkeuring en eer van mense, sal jy alle loon ééndag verbeur. Speel jy nóú vir die pawiljoene, sal jy dán bedroë daarvan afkom.
Hier is die beginsel. Ek en jy moet besluit waar en wanneer ons ons loon wil hê: Hier, of daar. Nou, of dan. Die wêreld is bereid om dadelik uit te betaal. Maar as jy in die hemel belê, sal jy in geloof moet wag.
Maar God se Woord verseker ons: Die dividende sal meer as die moeite werd wees!
+ Vir seker is dit nie sonder betekenis nie dat die Bybel in hierdie verband 'n besondere klem laat val op die belangrikheid van materiële uitdeling. Dít is een van die uitnemende maniere om skatte in die hemel te vergader (Matt 6:19-20; Luk 12:31-33; Luk 18:22; 1Tim 6:17-19). En, let baie goed op, dis nie net 'n bediening vir rykes nie. Onthou jy die arm weduwee wat haar laaste twee muntstukkies ingegooi het? En onthou jy die Here Jesus se kommentaar: Sy het méér gegee as die klomp welvarende Fariseërs?
Die waarde van 'n gawe word nie bepaal
deur wat ek gee nie
Dit word bepaal deur
wat ek oorhou
Daar is dus twee beleggingsalternatiewe voor ons:
Die een se dividende betaal nog in hierdie lewe uit, maar die sekuriteit is bedenklik.
Die ander se sekuriteit is absoluut, en die opbrengs duiselingwekkend. Maar mens moet in die geloof daarvoor wag, soms baie lank.
3.3 Ons lig en geleenthede
In die gelykenis van die waaksame slaaf, sê die Here Jesus dat die slaaf wat goed weet wat sy baas wil hê, maar dit nie doen nie, 'n swaar straf sal kry. Daarenteen sal die een wat te wyte aan onkunde nie doen wat die baas wil hê nie, 'n veel ligter straf sal kry.
Híér is dus die beginsel: "Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word" (Luk 12:47-48).
3.4 Ons gesindhede
In 1Kor 9 skryf Paulus oor die feit dat hy die evangelie uit eie keuse verkondig. Daarom doen hy dit kosteloos. Hy weet immers dat die loon wat hy nóú van die hand wys, wel eendag in die hiernamaals aan hom uitbetaal sal word (1Kor 9:14-18).
In 2Kor 9 gaan dit nogeens oor die materiële en ewige loon. Wie volop saai, sal volop maai. En in die besonder is dit belangrik om blymoedig en vrywillig te saai – want by uitstek is dit súlke uitdelers vir wie God lief is, wat Hy in hierdie lewe sal versorg, en wat eendag volop sal oes (2Kor 9:6-8).
3.5 Let op die hartsgesteldheid wat die feit van die komende regterstoel in Paulus verwek
Terug na ons oorspronklike Skrifgedeelte. In 2Kor 5:11 gaan die apostel verder: "Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is ... "
Omdat daar 'n onontkombare wetmatigheid is, naamlik dat baie vereis word van diegene wat baie ontvang het, is die vooruitsig op die regterstoel vir 'n Christen enorm gewigtig. Hoeveel het ons nie ontvang nie! Hoeveel ontvang ons nie steeds nie!
Laat die volle gewig hiervan lewensbepalend en lewenslank op jou hart druk:
Wat ek in hierdie lewe saai,
sal ek tot in alle ewigheid maai;
die kwaliteit van die saad wat ek nou saai,
bepaal vir ewig die kwaliteit van my loon!
3.6 Van alle mense is ons die allerlaastes wat kan kla dat ons beoordeel gaan word
Is ons nie herskep sodat ons heilig en godvrugtig kan lewe nie? Is God se wette nie op die tafels van ons harte gegrafeer nie? Werk die Gees van die Here nie nou só in ons dat ons eendag vir die loon kan kwalifiseer nie?
Waarlik, niks is meer redelik as die oproepe en bevele van die Nuwe Testament nie.
"Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens." (Rom 12:1).
"Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam" (1Kor 6:20).
3.7 Al is dit ék wat beloon sal word, is dit die Here alleen wat die eer daarvoor moet en sal kry.
In Op 4:8-11 lees ons van die vier-en-twintig ouderlinge wat hulle krone voor die troon van die Here terugplaas. Dis hulle lourierkranse (Gr. stefanoi) – simbool van die prys wat oorwinnaars in die Christelike wedloop ontvang. En dan breek hulle in 'n wonderlike lofuiting uit: "Ú is waardig ...!"
Waarom gee hulle hul pryse terug? Omdat hulle besef dat hulle die prys en loon wat hulle vir hierdie lewe se getroue volharding ontvang het, alles behalwe sélf verdien het. Dit is Gód se werk in hulle wat beloon is. Was elke oorwinnaarstree van hulle wedloop dan nie 'n genadegawe nie?
Laat ons dus altyd onthou: Elke stukkie godsvrug in my lewe is ten diepste die werk van Christus in my. Dis ten diepste nie ék wat gekroon gaan word nie, maar Christus in my.
Wat leer dit dan vir jou en vir my?
As mens die wenpaal seëvierend wil bereik,
moet jy leer om gelowig in die krag van die Heilige Gees te leef en te werk.
Die Here gee die oorvloed van Sy gawes by die wenpaal
omdat ons in die geloof Sy gawes op die baan aangeneem het.
Ten slotte
# As mens na die maatstawwe kyk wat God se Woord stel, is dit duidelik dat baie "Christene" nie die toets sal slaag nie. Hoe is dit dan dat Paulus, as hy oor die eindoordeel praat, soos klokslag die klem laat val op die sekerheid van beloning?
Die antwoord is eenvoudig. Sy versekeringe oor ewige loon skryf hy aan wedergebore mense – aan ware, herskepte mense. En hy weet dat die hartsverandering wat so 'n herskepping bewerkstellig, só diepgaande is dat mens, ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid, tog tot 'n mindere of meerdere mate aan die maatstawwe vir beloning voldoen – noodwendig!
# 'n Laaste gedagte oor hierdie saak: Laat ons goed kennis neem van wat die Here Jesus alles in ag gaan neem tydens Sy evaluering met die oog op ons ewige loon:
Nie net ons dade nie, maar ook ons geleenthede.
Nie net wat ons was nie, maar ook wat ons kon gewees het.
Nie net wat ons bereik het nie, maar ook wat ons nagejaag het.
Nie net wat ons gedoen het nie, maar ook wat ons nagelaat het.
Nie net die getal van ons goeie werke nie, maar ook die gewig daarvan.
UIteindelik sal dít die vraag wees:
Tot watter mate was ek gelykvormig aan Christus se beeld
in my hartsgesindhede
en in my dade en nalatings?
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Omdat hierdie Bybelse beklemtoning so verwaarloos word in prediking vandag, mag sekere mense geskok wees by die aanhoor of lees hiervan. Maar in hierdie studie probeer ek verduidelik.
[2] George Berry, A Dictionary of New Testament Synonyms, Zondervan, 1979, p.37. Vergelyk ook Richard Trench, Synonyms of the New Testament, Eerdmans, 1976, p.278-281 en Kenneth Wuest, Treasures from the Greek New Testament, Eerdmans, 1973, p.126-131.