Klankopname: https://tinyurl.com/32y7hkz3
Hierdie boek is sekerlik een van die merkwaardigste in die Ou Testament – en gewis een van die uitstaande geskrifte in die wêreldletterkunde.
Die verhaal speel hom ongeveer 2000 jaar voor Christus af. Daar is goeie redes om te aanvaar dat Job min of meer 'n tydgenoot van Abraham en Melgisedek was. Onder meer is sy ouderdom tipies van die patriargale tydperk. Na sy beproewing het Job nog 140 jaar geleef (Job 42:16). Wat die datering betref, is die feit betekenisvol dat daar niks in die boek gerep word oor die verbond met Abraham, of die eksodus, of die Sinaïetiese wetgewing nie.
Die Bybel bied Job aan as 'n historiese persoon. In Eseg 14:14, 20 word hy in dieselfde asem as Noag en Daniël genoem. En Jakobus sê: "Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het" (Jak 5:11).
Wanneer en deur wie die boek geskryf is, weet ons nie. Sommige dink dis Moses, aangesien Job se land, Us, aangrensend aan Midian was – waar Moses 40 jaar deurgebring het en waar hy dalk van hierdie ou aartsvader kon gehoor het (dalk persoonlik geken het).
Ander meen weer dat dit Salomo was, aangesien daar nogal parallelle tussen Job en Prediker te bespeur is wat styl en taal betref.
Wanneer die boek geskryf is, is ook onbekend.
Die tema van hierdie meesterstuk is die geheimenis van God se voorsienigheid in die lyding van begenadigde kinders van God. Dit word egter nie bloot abstrak en filosofies behandel nie, maar aan die hand van 'n regte mens en sy lewensworstelinge.
'n Uitsonderlike vroom en godvresende man word eensklaps onderwerp aan bykans onbeskryflike lyding en beproewinge. Dit lei tot Job se intense wroeginge om te verstaan wat met hom aan 't gebeur is. Uiteindelik word die intrige ontknoop as God in Sy onbeskryflike majesteit aan hom verskyn. Nie 'n enkele antwoord word gegee vir die talle vrae wat gevra is nie. Maar as Job diep onder die indruk kom van die ontsaglike heerlikheid van die God met wie hy te doen het, verdamp sy vrae en verwyte, en besef hy dat die antwoord daarin lê dat ons in ons geringheid en onkunde ons eenvoudig in die geloof aan die soewereine, algoeie en alwyse God moet toevertrou.
Die boek begin met 'n kort, maar aangrypende beskrywing van Job se godsvrug en rykdom. Aan hierdie eerste verse gaan ons nou eers aandag gee – in die besonder aan sy heilige lewe.
Job se karakter in 1:1
Vers 1 noem vier betekenisvolle karaktertrekke van hierdie uitsonderlike man van God.
Job was "onberispelik"
Die KJV vertaal met "perfect"; meer moderne Engelse vertalings met "blameless". Dit beteken nie dat Job sondeloos was nie. Hy bely self dat dit allermins van hom geld (Job 4:17; 9:2, 20).
Basies beteken die woord om heel of volkome te wees – om nie in dele verdeel te wees nie. Sy toewyding kom dus tot uitdrukking oor die volle spektrum van sy menswees. Sy hoof, sy hart en sy hand – sy oortuigings, emosies en dade – is in pas. Hy konsentreer nie op sekere pligte, terwyl hy in ander areas buite God se ordes leef nie. Hy is nie net sóms aan God toegewyd nie – nie net sekere dae en sekere seisoene nie. Of dit pas of nie, en of hy so voel of nie – sy toewyding aan God is konsekwent en onafgebroke.
So iets is net moontlik as jou toewyding en liefde vir die Here uit jou hart kom – die sentrum van jou persoonlikheid. Want uit die hart is die uitgange van die ganse lewe. Maar as jou godsdiens oppervlakkig is, slaan dit net hier en daar uit. En presies dit is wat van iemand 'n huigelaar maak.
Job het die Here met 'n onverdeelde hart gedien.
Job was opreg
Meeste Engelse vertalings vertaal met "upright". Die woord dui op iets wat reguit is – vandaar die idee van korrektheid, van reg-wees, van geregtigheid.
Iemand van wie hierdie eienskap wáár is, lewe reg voor die Here. Sy hartsgesteldheid is reg; sy uitlewing is reg. En só kan mens net wees as jy jou met toewyding daarop instel om te verstaan wat God se wil en wet is – en as jy jou prioriteite uitgesorteer het. Daar is nie meer innerlike tweespalt oor norme en lojaliteite nie. Voorop is en bly jou onderwerping aan die Here se onbevraagtekenbare hoofskap.
Job het dus volgens uigesorteerde beginsels geleef. Hy het sy plig geken en daarvolgens gelewe. Hy was 'n man van onkreukbare integriteit.
Job het ontsag vir God gehad
'n Diep ontsag vir God het sy lewe beheers. Hy het geweet met wie hy te doen het en aan wie hy verantwoording moet doen. Vandaar die worstelvraag wat onderliggend is aan sy ganse geloof: "Hoe kan 'n sterfling voor God die reg aan sy kant hê?" (Job 9:2).
Daarom leef Job Coram Deo – voor die aangesig van God. Dis waarom hy sy gedagtes, motiewe en gesindhede oppas en 'n hand voor sy mond hou.
As daar een geheim vir sy vroomheid en opregtheid is, is dit hierdie respek vir die Here – en die wete dat hy aan Hom sal moet gaan verantwoording doen. Die Prediker se les is op die tafels van sy hart geskryf: "Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad." (Pred 12:13-14).
Job het die kwaad vermy
Job pas sy hart op. Geen onkruid mag daar wortel skiet nie. Van versoekinge bly hy ver weg. Sonde vrees hy, want hy ken die vernietigende krag daarvan.
Twee verdere karaktertrekke
Job se bewoënheid oor sy kinders (Job 1:5)
Job het 'n pragtige gesin, en sy kinders is baie lief vir mekaar (v.4). Aangrypendste van alles is sy besorgdheid oor hulle – maar nie soseer oor hulle welsyn sonder meer nie, maar veral is sy erns dat hulle nie teen die Here sal sondig nie. Ten diepste gaan dit vir hom oor God se eer. Onder geen omstandighede mag hy en sy huis dit aantas nie!
Job se bewoënheid oor die behoeftiges (Job 29:11-17; 31:16-22)
In hierdie Skrifgedeeltes dink Job terug aan sy lewe vóór die rampe hom getref het. Is daar 'n mooier beskrywing in die Bybel van 'n gees van barmhartigheid as hierdie? Ja, hy was skatryk, maar niks het hom groter vreugde gegee as om die ellendiges te help nie.
Kan daar 'n groter uitdaging vir welvarende dissipels van die Here wees – eintlik vir ons almal – as om Job hierin na te doen?
Toepassing
1. Dis betekenisvol dat twee dinge glad nie genoem word as Job se godsvrug beskryf word nie.
# Eerstens is daar geen aanduiding dat Job enige kontak met die verbondsvolk gehad het nie. Kennelik was hy nie 'n afstammeling van Abraham nie. Mens lees ook niks in die boek van Melgisedek nie.
Terwyl ons nooit die belangrikheid van afkoms en assosiasie moet geringskat nie, moet dit steeds glashelder duidelik in ons gemoedere vasstaan dat dit ten diepste nie híérdie dinge is wat ons vir God aanvaarbaar maak nie.
Terwyl die sigbare kerk die appel van God se oog is, mag ons nie verval in die Roomse dwaling wat lidmaatskap van die institusionele kerk 'n voorvereiste vir redding maak nie.
Terwyl daar min groter voorregte is as om in 'n huis groot te word waar die Here in gees en waarheid gedien word, moet ons ten alle koste wegstuur van die idee dat jy min of meer outomaties gered word omdat jou ouers Christene is.
Nee, belangrik soos die Here se genademiddele en die werkinge van Sy voorsienigheid is, moet ons steeds kompromieloos daarop aandring dat geloofsvertroue in Christus se middelaarskap vanuit persoonlike morele en geestelike bankrotskap, die enigste, maar ook ononderhandelbare vereiste vir verlossing is. Ontelbaar baie dissipels van Jesus het deur die eeue die haglikste afkoms gehad.
# Tweedens is die afwesigheid van die seremoniële in Job se godsdiens verbasend –veral as mens in ag neem dat hy 'n Ou Testamentiese figuur was. Geen melding word gemaak van allerlei rituele, reinigings of priesterlike formaliteite nie.
Weliswaar het Job geoffer (1:5), maar dit was die eenvoudige manier destyds om uitdrukking te gee aan jou geloof in 'n komende Middelaar. In elk geval was Job priester van sy eie huis. Maar deurgaans is dit duidelik dat sy godsdiens uit die hart gekom het, en nie 'n kwessie van seremonies was nie.
Onthou, die Here plaas reg van die begin af 'n gewigtige premie op aanbidding in gees en waarheid (vgl.Joh 4:21-24) – destyds al, maar uiteraard soveel te meer vandag!
2. Terwyl die tema grootliks besig is met Job se teëspoed en die vraag waarom so 'n goeie man so swaar moes kry, moet ons onthou dat die boek ons ook duidelik meedeel dat dit vir die grootste deel van sy lewe wonderlik goed met hom gegaan het.
Dis juis die onverwagse en verbasende van Job se rampe wat 'n dramatiese karakter verleen aan die vraagstukke wat die boek aansny. Dit is immers die normale dat dit goed gaan met iemand wat die Here so onvoorwaardelik en met oorgawe dien. Wat met Job gebeur, is die uitsondering, nie die reël nie.
Laat ons dus nie van Job se verhaal die reël maak nie. Dit was 'n uitsondering –weliswaar 'n uitsondering wat kardinaal belangrike beginsels vir ons in helder kleure verf, en 'n uitsondering wat steeds partymaal voorkom.
Laat ons dus nie in oorreaksie teen 'n onbybelse welvaartsteologie in die teenoorgestelde dwaling van 'n ellende-mentaliteit verval nie. Die Here seën Sy kinders! 'n Lewe in Sy ordes lewer amper sonder uitsondering wonderlike dividende – reeds in hierdie lewe! En dit geld nie net die geestelike nie, maar óók die emosionele en die materiële. Natuurlik is dit nie 'n eenvoudige formule nie. Dikwels vat sulke dividende lank om te realiseer. En altyd is daar uitsonderings. Maar 1Pet 3:10-12 staan vas: "Immers, "wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen díė wat verkeerde dinge doen."
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev