PDF WEERGAWE

Preekopname:   https://tinyurl.com/2bw8zd39

Laas keer het ons gekyk na die mistasting van Job se vriende in hulle pogings om hom te probeer help in sy krisis. Nou fokus ons meer op Job self se belewinge.

            Job is nie net tot die dood toe siek nie. Sekerlik is hy ook beangs vir die dood self wat kennelik op hom wag. Onthou dat hy maar net 'n fraksie het van óns insig in die Godsopenbaring, en alles wat daarmee saamhang. Bes moontlik het hy bloot 'n verwagting van 'n onbekende, amper spookagtige ewigheid wat op hom wag. Selfs al sou hy wel tot op daardie stadium vooruit gekyk het na een of ander welgeluksalige ewige toekoms, het dit wat nóú met hom gebeur, so 'n hoop waarskynlik heeltemal laat vervaag.

            Kom ons kyk nou na sy amper wanhopige pogings in sy gesprekke met sy vriende om emosioneel sy kop bo die stormwaters van benoudheid te hou.

Misplaaste ywer vir die Here

Onthou, Satan se doel is om Job so ver te kry om ontnugterd en verbitterd sy rug finaal in ongeloof op God te draai. Gewetenloos sal hy geen slinksheid ontsien om dit te bereik nie.

            Laas keer het ons gesien dat Job se vriende in hulle misplaaste en onkundige ywer vir die Here, presies die teenoorgestelde bereik van wat hulle beoog. Omdat hulle kennis van God en Sy weë so gebrekkig is, trap hulle Job al hoe dieper in die modder in – hoe langer hoe meer hulle probeer om hom te help en God se eer te verdedig.

            Job self dink waarskynlik ook op hierdie stadium nog in terme van verdienste as noodsaaklik vir God se guns. Presies dit is waarom hierdie vroom nog altyd oortuig was dat sy saak met God reg is.

            Maar nou? Met alles in hom probeer Job die indruk weerstaan wat hom wil verswelg: God is onregverdig, wreed, meedoënloos. Hy is toe nooit die Algoeie nie. In die jare wat verby is, het hy wat Job is, op 'n hersenskim gebou.

            Toenemend, soos die gesprekke tussen Job en sy vriende vorder, is hy al hoe minder oor hulle en hulle argumente begaan. Sy worstelinge is met die Here – en oor Sy regverdigheid. Die situasie dreig om sy God van die jare wat verby is by hom te steel. En wat bly dán vir hom oor. Sy enigste bron van troos, soos die argumente vorder, is besig om al hoe dowwer te word. En wat kan erger wees as om geen hoop meer te hê nie! Dan bly daar niks oor nie.

Die hoogste geloof

#          Lees mens deur Job se antwoorde aan sy vriende, sien jy hoe sy geloof op en af wipplank. Dis 'n geweldige stryd tussen menslike logika aan die een kant, en afhanklikheids- en liefdesgeloof aan die ander kant.

            +          Hy kan eenvoudig nie die waterdigte logika van sy vriende ontkom nie. As God regverdig is, moet daar 'n presiese verband wees tussen sonde en straf. Dis tog waterdigte logika. Wie kan dit betwyfel?

            Maar juis dit is Job se probleem.

            Want nou lyk dit asof selfs hy – nog altyd vromer as almal – nie aan God se standaarde voldoen het nie. Kyk hoe ellendig gaan dit met hom! Hoe goed móét 'n mens dan wees om Hom te behaag?

            +          Of is God onregverdig!

            Maar dis tog ondenkbaar. Vir baie jare was die Here só oneindig goed vir hom!

           

#          Die geloofskrisis is besig om 'n onoorbrugbare kloof tussen hierdie sterwende man en die God van sy liefde te skeur.

            Maar waar gaan hy heen as hy Hom laat los. Wat bly oor? Die gedagte is ondraaglik. Hoe lief het hy God nie altyd gehad nie! Sonder Hom kan hy nie leef nie – en nog minder sterf.

#          Elke keer as Job sy ore uitleen vir sy vriende, sink hy soos 'n klip. Maar as hy dan weer in kinderlike geloof hom net aan die Here toevertrou, skiet hy boontoe soos 'n kurkprop: "Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom ..." (13:15, OAV).

#          As Job die Here in liefdesoorgawe vertrou – al verstaan hy nie alles nie – geskied dit nie strydig met redelikheid nie. Vandag weet ons immers, aan die hand van God se volle openbaring, dat die vriende se vertrekpunt verkeerd was. Dis eenvoudig nie so dat ons lyding konsekwent 'n akkurate weerspieëling van ons persoonlike sonde is nie.

            Nee, mense ly nie net omdat hulle sondaars is nie, maar dikwels júís omdat hulle heilig is – en heiliger moet word.

#          Dís egter openbaring wat die Ou Testamentiese Job nog nie, soos ons, ontvang het nie (Heb 12: 5-11).

            Hierin sit nou vir ons 'n groot les: Daar is eweneens 'n duisend verdere waarhede wat ook óns vandag nie kan bedink nie – gewoon omdat die openbaring daarvan nog toekomstig is. Daar staan immers in die Nuwe Testament geskryf: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir díé wat Hom liefhet" (1Kor 2:9).

#          Laat ons dus ons hemelse Vader vertrou, ongeag hóé donker ons pad ook al mag wees. Talle van ons is immers nie vreemdelinge vir ons eie Jobservaringe nie.

            Nooit is geloof suiwerder, en nooit behaag dit God méér nie, as wanneer mens aan Hom vashou ter wille van Homself, ongeag of daar iets by Hom te kry is of nie. Trouens, in sy oomblikke van geloofstriomf gee Job nie eers om as die Here hom dalk sou ombring nie,

want om Hóm te hê, is kosbaarder as gesondheid, trouens, as hierdie lewe self.

            Dis die suiwerste uiting van vertroue en die kosbaarste liefdesverklaring wat 'n sterfling aan sy Here kan maak: Indien U dit nodig ag om al U gawes van my te weerhou, is dit reg so Here – gee my net Uself!

            Maar natuurlik, só liefdevol is God, dat as Hy Homself gee, gee Hy spoedig ook Sy gawes.

Die lewe na die dood

#          Niks is erger vir Job as sy worstelinge oor die realiteit en aard van die lewe ná die dood nie. Want dit lyk asof hy binnekort gaan sterf.

            Luister hoe wipplank sy wroeginge: "Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy lote hou nie op uitspruit nie ... so gaan lê 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie ... As 'n man sterf, sal hy weer leef? ..." (vgl. Job 14:7, 12, 14).

            Job slinger heen en weer tussen wanhoop en hoop – tussen 'n duistere doderyk en 'n ewige lewe vol lig.

#          Die aartsvaders het waarskynlik geweet dat daar iets van 'n bewustelike staat wag na die dood. Maar hulle verwagtinge was skaduagtig. Eksplisiete openbaring daaroor het hulle nog nie ontvang nie. Hulle het afgekyk in die doderyk; hulle het nie opgekyk na die hemel as die woonplek van God en Sy verheerliktes nie. Daarom praat Job in Job 10:21-22 van die hiernamaals as die stikdonker land, waar selfs die lig donker is en niks georden is nie, en van waar mens nooit weer terugkeer nie.

#          Dink jou in: Job weet hy is op die drumpel van die dood. Wat 'n benoudheid; wat 'n paniek!

            Maar presies op hierdie punt is hy 'n halftree weg van die grootste ontdekking van sy lewe.

            Meer nog, hy is op die punt om ontvanger te word van ‘n stuk sewe-myl vooruitgang in Ou Testamentiese openbaring.

Die antwoord: 'n Tussenganger

#          Tot en met sy rampspoed is sy vroom lewe in Job se gemoed die basis vir sy geloofsekerheid en vrymoedigheid voor God – 'n lewe só uitnemend dat selfs God teenoor satan daaroor roem (1:8; 2:3).

            Maar van selfvoldaanheid is daar nóú in sy verskriklik-afgetakelde toestand geen sprake meer nie. Job is van alle menswaardigheid gestroop. Dit weet hy: Al het hy voor die tyd vroom voor God geleef, en gedink dit sal hom ten goede kom, ervaar hy nóú geen saligheidsverwagting nie. Nee, in sy vertwyfelinge weet hy dat hy geen verdienste voor die Here het nie. En sy uitsigloosheid raak al hoe erger soos sy vriende hom bepreek.

#          Maar iewers, iewers in Job se verwarde en wanhopige gemoed begin 'n idee uitkristalliseer. Dis 'n eienaardige aanvoeling, algaande 'n oortuiging.

            Vir hom is die gedagte totaal nuut: As hyself dan geen stand voor God meer het nie, bly daar net één oplossing oor: 'n Tussenganger tussen hom en God – 'n middelaar!

#          Die gedagte ontwikkel geleidelik in hom:

            In Job 9:32-35 lees ons: "Ja, Hy is nie 'n mens, soos ek, dat ek my teenoor Hom kan verweer, en ons saam na die gereg kan gaan nie. As daar maar iemand was wat die saak tussen ons kon besleg, wat sy hand oor ons albei kan hou! God sou sy straf van my moes verwyder; sy verskrikking sal my dan nie ontstel nie. Dan kon ek praat sonder om Hom te vrees; maar in my geval is dit nie so nie."

            Dan in Job 16:19-21: "Maar nou, kyk, my Getuie is in die hemel, my pleitbesorger is in die hoogte; die Een wat vir my voorspraak maak, is my Vriend. By God stort my oog trane; maar die Voorspraak sal vir 'n man by God pleit soos 'n mens vir sy vriend pleit."

            Dan uiteindelik, die triomfkreet in Job 19:25: "Ek weet, ek weet: My Losser leef! Uiteindelik sal Hy op die aarde opstaan. Nadat my vel so afgeskeur het, sal, 'n mens van vlees en bloed, God sien; my eie oë, en niemand anders nie, sal Hom sien. My hele wese smag daarna."

            Dis Job se oorwinningsmoment. Uiteindelik het hy ware geloof, saligmakende geloof, die enigste geloof wat vir God aanvaarbaar is. Van nou af sal sy voete met elke gesprek op hoër grond staan.

            Job is steeds nie seker oor wat presies op hom in die hiernamaals wag nie (weet selfs ek en jy?). Maar dít weet hy: As sy Verlosser leef, sal ook hý leef! En as God dan so goed is om vir hom 'n Plaasvervanger te gee, sal daardie lewe goed wees.

#          Van nou af is Job se gemoed nie meer in die eerste instansie op homself en sy lyding ingestel nie. Hy fokus op sy toekoms. Nog meer, sy oë is gevestig op sy Verlosser. Om by Hom te wees, ongeag wat wag, is op sigself die hoogste goed!

En so word sy selfgesentreerde kwellinge vervang

met die wonder van (wat ons vandág sou noem)

Christus-gefassineerdheid.

'n Noodsaaklike kwalifikasie

#          Belangrik is dit om te beklemtoon dat hierdie verlossingsinsig in Job se denke saamhang met 'n besef van onwaardigheid voor God. Dit loop hand aan hand met sondebesef.

            Let op sy bekende vrae: "Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God en sonder blaam voor sy Maker staan?" (Job 4:17). En: "hoe kan 'n mens regverdig wees by God?" (Job 9:2, OAV).

            In Job 14:16-17 hoor ons sy versugting dat die Here nie sal ag slaan op sy sonde nie, maar dit sal verseël in 'n sak; sy sondeskuld sal toepleister.

#          Wonderlik is hierdie verlossingsmusiek wat ons alreeds so vroeg in die openbaringsgeskiedenis lees. En dis onmiskenbaar Messiaans.

            Trouens, dit het nie slegs van Job gegeld nie, maar van alle verlostes in die Ou Testament – dat hulle op grond van die komende Messiaanse middelaarskap gered sou word van hulle sondeskuld.

            Elke lam wat geoffer is het sulke ootmoediges, maar ook begenadigdes, opnuut herinner, Jahweh gaan nog 'n Plaasvervanger en Verlosser voorsien.

#          Tot vandag toe is dit steeds so: 'n Mens – enige mene – moet eers gestroop word van elke kriesel selfvertroue voor die heilige God, voordat redding in Christus finaal 'n werklikheid word.

            Per slot van rekening is ware saligmakende geloof om in algehele afhanklikheid in Jesus Christus as enigste Plaasvervanger en Middelaar in te vlug en in Hom alleen enduit te bly skuil.

Waar staan jy met betrekking tot die Middelaar?

Hoe bevoorreg is ons nie om in die helder lig van Nuwe Testamentiese openbaring te leef nie!

"Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar

deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus:

Hy het die mag van die dood gebreek

en deur die evangelie

die onverganklike lewe aan die lig gebring"

(2Tm 1:10).

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev