Preekopname:   https://tinyurl.com/y8zac5yf

Hierdie laaste hoofstukke is sekerlik die mees verhewe gedeelte van die boek Job. Hier praat die Here God self, en die taal en beelde wat gebruik word, is van die aangrypendste in die ganse Bybel.

            As mens hierdie hoofstukke die eerste keer lees, val dit op dat die Here hoegenaamd nie Job se probleem aanspreek nie. Maar dit is nie Sy doel om Job se vrae te antwoord nie. Nooit gaan staan Hy in die aanklagtebank as Sy kinders ongelukkig is oor Sy optrede nie. Nee, nee! Hy is die soewereine God wat teenoor niemand aanspreeklik is nie.

            Tog wil Hy Job se probleem oplos – maar op Sý manier.

            In hierdie hoofstukke daag die Here Job as 't ware uit om hom gereed te maak vir 'n strydgesprek. In sy wrewel het hy wat Job is immers duur dinge teen God gesê – selfs gelaster: dat God se wêreldregering arbitrêr is; dat Hy mense onregverdig straf; dat Hy nie in beheer is van die onreg in hierdie wêreld nie.

            Goed, dan kan Job nou sy standpunte en opinies aan God self verduidelik. God sal die vrae vra, en Job moet dan antwoord.

'n Oorsig oor (38:1-42:6)

God praat die eerste keer (38:1-39:35)

Die Here begin Job uit 'n storm aanspreek. Hy vermaan hom, omdat hy in onkunde homself aangematig het om allerlei onverantwoordelike dinge oor Hom te sê. Hy stel dit duidelik: hy wat Job is, het nóg die gesag, nóg die wysheid om die lewende God te probeer leer hoe Hy die wêreld moet regeer (38:1-3).

            Waar was Job immers toe Hy die aarde geskape, en die see ingeperk het (38:4-11)? Kan Job die koms van die dagbreek beheer (v.12-15)? Wat weet hy van die dieptes onder die aarde, of die ruimtes daarbo (v.16-18)? Waar kom lig en donkerte vandaan (v.19-21)? Wat weet Job van die oorspronge van sneeu en hael, van die lig en die wind, van reën en ys (v.22-30)? Kan hy die beweging van die sterre beheer (v.31-33)? Kan hy die wolke beveel om te reën, of die weerlig om te slaan (v.34-38)? Kan hy die wilde diere beheer? En wat verstaan hy van die kragte wat hulle laat kom en gaan (Job 39:1-33)?

            Die Here sluit af deur Job op te roep om nie langer met Hom as die Almagtige God te twis nie (39:34-35).

Job verneder homself (39:36-38)

Job se baie woorde van vroeër het grootliks opgedroog. Al wat hy in skaamte kan uiter, is 'n belydenis: "ek het heeltemal te veel gepraat in die verlede; in die toekoms sal ek liewer stilbly."

God praat die tweede keer (40:1-41:25)

Hierdie tweede rede is baie soos die eerste. Job het God beskuldig – nou het hy geleentheid om te sê hoe hý die wêreld sou regeer, en die ontembare seekoei en die gevaarlike krokodil.

            Uiteindelik sê die Here vir Job dat hy moet onthou dat hy 'n skepsel is, en dat hy dus sy plek moet ken. Hoe kan hy teen God standhou (41:1)? Hoe kan hy 'n stryd met God wen?

            Maar God is nie net almagtig nie; Hy is meteen in elke opsig volmaak in Sy Persoon en in al Sy handele. Hoe durf Job, in 'n poging om homself te regverdig, sy Skepper en Regeerder bevraagteken en Hom van onreg beskuldig? Weet hy dan nie dat God alle kennis en mag het nie? Het Job vergeet dat Hy absoluut soewerein is?

Job se finale oorgawe (42:1-6)

Na God se eerste rede het Job stil geraak. Maar nou is hy heeltemal ingebreek en hy verootmoedig homself. Hy verag sy eie dwase en goedkoop uitbarstings. En dan uiter hy sy bekende belydenis: In die verlede het ek U bloot volgens hoorsê geken. Maar nou het ek U self ontmoet. En ek verag myself. Ek het diep berou oor alles wat gebeur het (Job 42:5-6).

            Nie 'n enkele van Job se vrae is beantwoord nie.

            Máár, wat hy wel baie duidelik weet, is dat God algeheel soewerein en goed is – en áltyd reg in alles wat Hy doen. Nou weet Job sekerder as ooit dat hy volkome kan peil trek op God se liefde, wysheid en geregtigheid.

Toepassing

1.         God het nie alles aan ons geopenbaar nie.

In ons verhouding met, en verstaan van die Here, sal daar altyd talle geheimenisse wees. Hy het nét die noodsaaklike in Sy Woord aan ons geopenbaar.

            In 1Kon 8:12 vind ons 'n betekenisvolle uitspraak. Met die ingebruikneming van die tempel sê die Here vir Salomo dat Hy in duisternis wil woon. Daarmee wil Hy vir die koning en die volk aan die verstand bring dat Hy die heilige, onbegryplike en geheimenisvolle God sal bly, al sit daar ook 'n hele stuk self-openbaring in die tempel.

            Jesaja het dit verstaan: "U is die God wat U verborge hou ..."

            Só belangrik is hierdie beginsel, dat 'n Latynse frase tot vandag toe oorleef: God is die Deus Absconditus – die verskuilde en geheimenisvolle God.

            Laat ons dit maar goed onthou. Hy is nie ons speelmaat nie. Hy is heilig en verhewe. En wat ons van Hom weet deur Sy self-openbaring, is 'n net 'n fraksie van wie en wat Hy is.

            Een van ons belangrikste aktiwiteite in die toekomstige heerlikheid, sal wees om die Drie-enige steeds beter te leer ken.

            Is die essensie van die ewige lewe nie dat ons Hom mag ken nie? (Joh 17:3).

            Uiters belangrik in hierdie verband is Deut 29:29 (OAV): "Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders ..."

            Wat die Here dus nie geopenbaar het nie, verwag Hy nie ons moet weet nie. Hy sal ons ook nie daarvolgens oordeel nie. Wat Hy egter wel in Sy Woord laat opteken het, moet ons met die grootste erns bejeen. Wat ander sake betref, het ons vryheid.

            Maar dis noodsaaklik om te onthou dat nie ál God se geopenbaarde beginsels simplisties en voor die hand liggend op die oppervlak van die Bybel lê nie.  Baie daarvan moet uitgemyn word. Dis één rede waarom dit so belangrik is om aan 'n gemeente te behoort waar die Woord Sondag na Sondag verantwoordelik en deeglik uitgelê word. En dis waarom ons soveel erns moet maak met die historiese Christelike geloof. Dis die opperste dwaasheid om jou nie aan die lesse wat die Heilige Gees ons vadere geleer het te steur nie.

            Ons hoef nooit verleë te wees as ons nie ál die siniese vrae en aanklagte van 'n ongelowige wêreld kan antwoord nie. Trouens, 'n leraar wat nie kan sê nie, "ek weet nie", is 'n leraar onder ernstige verdenking. Oppas vir daardie mense wat al die antwoorde het. Dis 'n teken dat hulle min begryp van die Here en Sy weë.

 

2.         Die soewereiniteit van God is nie bloot 'n onpersoonlike karaktertrek wat onvoorspelbaar allerlei bedreiginge vir ons inhou nie.

Nee, daar sit vir ons wonderlike sekuriteit in – en ons leer dit in verhouding met Hom ken.

            Baie mense se idee oor God, veral as hulle aan Sy soewereiniteit dink, is dat Hy 'n veraf en onpersoonlike God is. Hulle het die heidense persepsie dat Hy onvoorspelbaar en arbitrêr is, en dat ons as mense magteloos uitgelewer is aan sy willekeur.

            Dis een van die groot redes waarom soveel mense niks van God se soewereiniteit wil weet nie. Dit bedreig hulle.

            Maar dis allermins 'n Bybelse siening!

            Die Skrif leer ons, en ervaring bevestig dit, dat God altyd in volle harmonie met al Sy attribute optree. Dit sluit Sy liefde, regverdigheid en wysheid in. Daarbenewens bly Hy sonder uitsondering onkreukbaar getrou aan Sy verbondsonderneminge. Die Here is dus absoluut konsekwent – en as sodanig in vele opsigte inderdaad voorspelbaar.

            Daarom hoef ons nooit, maar nooit insekuur te wees in ons verhouding met Hom nie. Job leer God eers werklik in Sy soewereiniteit ken as hy met Hom persoonlik te doen het. Presies dieselfde geld vir ons. Ons ken God nog nie as ons bloot 'n klomp waarheid oor Hom verteer het nie – waarheid wat ons gewoon by mense kry of oplees.

            Intellektuele waarheidskennis is inderdaad baie belangrik, trouens noodsaaklik –  maar nie naastenby genoeg nie. Let weer daarop dat die Here nie 'n enkele van Job se vrae beantwoord het nie. Hy weier as 't ware om Job bloot intellektueel te bevredig.

3.         Die antwoord op Job se krisis is dus persoonlike gemeenskap met God; nie net hoorsê oor Hom nie (42:5).

Ware kennis van God kry ek slegs as ek met Hom wandel. Ek kry dit soos ek oor jare heen aan Sy hand stap – gelowig deur voorspoed en teëspoed, blydskap en hartseer, triomf en mislukking.

            Nog iets wat ons goed onder die knieë moet kry, is dat dit nóóit moeiliker is om voor God se soewereiniteit te buig nie, as in tye van swaarkry en smarte.

            Of ons dit nou wil weet of nie, almal van ons het die geneigdheid om Hom ter wille van ons voorspoed te wil inspan. En om hierdie mentaliteit uit ons te brand – want maklik raak ons nie daarvan ontslae nie – moet ons dikwels deur 'n vuur van beproewing worstel, totdat ons ook hierdie moeilikste van alle lesse van harte geleer het.

            Waarlik, geseënd is die man of vrou wat nie deur die Here op laer vlakke van Godskennis gelos word nie.

4.         Soos in Job se geval, is die beproewinge in ons lewens op ons heiligmaking ingestel.

Sekerlik het Job goed gevaar in sy konflik met die Duiwel. Maar daar is altyd ruimte vir verbetering. Die Here wil hê ons moet heilig wees – soos Hy. En gewis staan Job se voete nou op hoër grond.

            Eerstens is hy baie nederiger. Sy selfhandhawing is iets van die verlede. Vantevore was hy deeglik bewus van sy vroomheid. Nou stel hy geen vertroue meer in homself nie.

            Tweedens ken hy God soveel beter. En wat is belangriker as dit (Joh 17:3)? Maat let op, die pad van Godskennis kan soms baie steil wees.

            Die uitnemende les wat die Here God vir ons almal wil leer, is dat ons – wat ewigheidsake betref – geen vertroue in ons eie gevoelens, insigte en oordele moet stel nie. Nee, ons moet ons volledig op Hom verlaat.

            Job moet op 'n punt kom waar hy in God self rus, sonder enige verduidelikings hoegenaamd. Dit is waarheen die Here met hom op pad is. Dan sal Satan nie die minste houvas meer op hom hê nie.

            Daarenteen rig die vyand van ons siele, in sy gepoogde ondermynings van ons geloof, hom op ons vleeslike rede en sintuiglike waarnemings. Maar as ons onvoorwaardelik vertrou in ons hemelse Vader se goedheid en betroubaarheid – ten spyte van 'n duisend dinge wat ons nie verstaan nie – is ons immuun teen Satan se geloofsaanvalle.

5.         Les bes: Laat ons onthou dat baie van ons bes moontlik kragtige aanvegtinge mag ervaar op ons sterfbeddens.

Dan, meer as ooit, sal ons waarlik 'n ryp en gespierde geloof nodig hê – geloof in 'n algeheel betroubare Middelaar wat vir ons by die Vader intree.

            Maar so 'n geloof sal ons dán slegs hê, as ons nóú reeds onsself daarin oefen.

Laat ons dus die pad vorentoe met 'n ferm tred aandurf.

Met 'n Hoëpriester soos Jesus Christus,

kán ons nie misluk nie,

want as Bekragtiger, Beskermer, en Voorspraak by die Vader

is Hy onfeilbaar getrou.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev